Wegholvragmotors uit die pas is nie ’n nuwe verskynsel op Lydenburg
Dood van Dewald en Izanie Pretorius is die eerste keer dat 'n wegholvragmotor lewens eis.

Die Longtompas het toeriste al vir dekades in verwondering.
Nie net vir sy skoonheid en woude wat plek-plek aan ‘n uitsig in Europa herinner nie, maar ook die draaie wat met soveel noukeurige ingenieurswese beplan is.
Grobbie Grobler (86) kan steeds goed onthou van voorvalle van wegholvragmotors deur die jare.
Steelburger/Lydenburg Nuus het met hom gaan gesels na die slagting van Vrydag. Die remme van ‘n vragmotor het onklaar geraak en Dewald (31) en Izanie (27) Pretorius is in die ongeluk oorlede. Tientalle voertuie asook geboue is ernstig beskadig.
Lees ook: Sélfs die dood kon egpaar nie skei nie
Grobler het vertel van hoe mense voor ‘n vragmotor in 1955 moes wegskarrel. Die vragmotor het eers teen die opdraand na Mashishing, oorkant die staalbrug, tot stilstand gekom. In daardie jare was daar darem baie minder voertuie in die dorp en niemand is beseer nie.
Steelburger/Lydenburg Nuus het ook met behulp van Frik Rousseau, ‘n oudraadslid, ‘n Lydenburg Nuus gedateer Vrydag 28 Februarie 1986 onder oë gehad, met die hoofopskrif: Genade van Bo.
Op Vrydag 25 April 1986 was daar weer ‘n wegholvragmotor deur die dorp, met die opskrif: “Wegholvragmotors so teen Longtom gestuit.” Daarin word vertel dat die nuwe noodstopbaan eersdaags gefinaliseer sou word.
Op die Facebook-groep “Hoërskool Lydenburg Eeufees” het oudleerders van voorvalle in 1968 en ook in 1981 vertel. Volgens Henk Venter, was die noodstopbaan oorkant The Heads-kompleks eers nader aan die dorp. Dit was voor die nuwe uitbreidings aangebou is.
Lina van der Berg het van ‘n voorval in die 1970’s onthou.
Die destydse Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Truk) se dekorvragmotor vir hul My Fair Lady-produksie het in Voortrekkerstraat teen ‘n boom tot stilstand gekom nadat die remme op die Longtompas onklaar geraak het.
Sy het ook genoem van ‘n groot trok wat gasbottels vervoer het wat in die 1970’s vinnig moes plan maak om nie ‘n ramp te veroorsaak nie. Toe die bestuurder die duikweg sien, het hy besef hier kom fout. Hy het toe links van die duikweg teen die spoor tot stilstand gekom. Daar was toe nog nie woonstelle nie.


