Rotstuine gaan meer as een straat op Lydenburg verfraai
Die plaaslike sakekamer sê hy benodig vetplante en rotse om hierdie projek voort te sit.

Op Woensdag 28 September het die Lydenburg/Mashishing Sakekamer in Voortrekkerstraat ‘n rotstuin geplant.
“Ons het in Januarie besluit om self projekte aan te pak. Die Lydenburg PRIDE is etlike jare gelede begin. Ons as sakekamer wil nie die werk van plaaslike owerhede oorneem nie, maar wil ‘n verskil maak ten bate van ons sakeondernemings en toerisme,” het Etli van der Merwe, die voorsitter, gesê.
Lees ook: Sélfs die dood kon egpaar nie skei nie

PRIDE is ‘n ondersteuningsbeweging met die doel om die hele munisipale area skoon te maak. In Januarie het die sakekamer weggespring en met randsnyers lang gras by die ingange na die dorp gesny. In Augustus het hy ook ‘n suksesvolle vullisdromprojek aangewend. Thaba Chweu Plaaslike Owerheid het wel onderneem om die dromme weekliks leeg te maak.
Theresa Boshoff, sakekamerlid en sake-eienaar, het saam met die ander lede spesifiek op die rotstuin besluit. Dit verg minder instandhouding en lyk vir seker beter as ‘n bedding vol bossies.
Die volgende rotstuin gaan in Potgieterstraat geplant word. Skakel Boshoff by 072 224 9840 vir moontlike skenkings of om die werkers se dagfooie te borg.
