Local news

Vermoorde Laeveld-boer se familie onthou hom só

Die macadamiaboer, Etienne du Toit, se familie deel hul herinneringe van dié geliefde man ná hy op 29 September op sy plaas buite Mbombela vermoor is.

‘n Ongelooflike man, ‘n pa duisend en ‘n topboer.

Só onthou geliefdes vir Etienne du Toit (53), wat op 29 September op sy plaas in Sterkspruit vermoor is.

LEES OOK: Victim in Sterkspruit murder identified

Sy vrou, Irene, sê soos die boodskappe oor hom deurkom, sê mense hy was nie net ‘n vriend nie, maar ‘n broer.

“Hy het baie naby vriende gehad, maar dan was hy ook vriende met die res van Nelspruit,” lag sy, en vertel hoe, as daar ‘n braai gereël word, die gastelys aanvanklik met een naam begin en daarna net verder groei.

Sy boerdery was absoluut ‘n passie. “Dit was ongelooflik netjies en alles op die plaas was stiptelik. Ander boere het gespot en gesê hy kam die gras met kamme,” sê Irene.

“Hy was ‘n topboer en ongelooflike mens; ‘n lopende ensiklopedie wat boerdery betref – jy kan enige groot macadamiaboer vra.”

Ook Chrisna Combrink, sy vorige vrou en die ma van sy kinders, het sy liefde vir boerdery bevestig. “Beroepsgewys was daar drie opsies… boer, boer of boer,” lag sy.

Van Etienne se kaliber as pa kan albei vroue getuig.

“Al was ons geskei, was ons nog steeds in mekaar se lewens betrokke, as ma en pa van ons twee pragtige seuns, Isak en Francois,” sê Chrisna.

“Ons het ons oudste seun, Isak, in 2017 aan die dood afgestaan, en om nou vyf jaar later op so ‘n wrede manier van Etienne te moet afskeid neem, is geweldig traumaties.

LEES OOK: Wegholvragmotors uit die pas is nie ’n nuwe verskynsel op Lydenburg

“Die twee seuns was sy alles, en hy wou net die beste hê vir hulle.

“Tydens Isak se siekbed sou Etienne laatmiddag van Nelspruit af na die Netcare Milpark Hospitaal in Johannesburg ry. Dan het hy die nag langs Isak se bed gesit. Hy sou dan vir hom ‘n Goofy en ‘n Popeye teken (wat hy baie goed kon doen) met die woorde: ‘Pa is lief vir jou’, en dit dan langs sy bed los, en met ‘n vol gemoed in sy bakkie klim en terugry Nelspruit toe om weer by sy ander verpligtinge by die boerdery uit te kom.

“Daarvoor sal ek hom altyd respekteer.”

Francois het later saam met sy pa begin boer, en sal voortgaan met die boerdery wat sy pa met soveel passie en perfeksionisme opgebou het.

Etienne du Toit en sy seun, Francois.

Irene sê dit sou in Desember vanjaar drie jaar wees wat die pa en seun saam geboer het.

As pa en eggenoot was Etienne eenvoudig fenomenaal in haar lewe. Hulle het in Mei hul derde huweliksherdenking gevier, en hy het ook haar dogter, Chanté Niemandt, as sy eie aanvaar.

Etienne en Francois du Toit en Chanté Niemandt.

“Ek is so dankbaar die Here het hom op my pad gestuur. Die drie jaar voel al soos 40 gelukkige jare.

“Ek sal in my lewe nooit weer so iemand kry met so ‘n persoonlikheid nie. Ek sal elke stukkie van hom vir die res van my lewe mis.”

Sy sê ‘n vriendin het hom so goed opgesom: “Hy kan ‘n ding so reguit sê, maar met soveel deernis.”

En hy het nie sommer net vir haar nag gesê nie. Elke liewe aand het sy ‘n soen gekry met die woorde, “Goodbye. Ek is lief vir jou.” Die volgende oggend was dit weer ‘n “Goeie-liewe-môre!”

LEES OOK: Bekende Nelspruit-sakeman uiteindelik bevry van alkoholisme se greep

Oor watter tipe mens hy was en oor alles wat hulle saam gedoen het, is daar soveel herinneringe vir haar, maar een ding sal spesifiek bly uitstaan:

“Wat ek die meeste van hom sal mis is om elke middag op die motorfiets ‘n draai op die plaas te gaan ry.”

Etienne se roudiens sal op Maandag by die NG Kerk Alkmaar gehou word. Na afloop van die diens sal geliefdes by Alkmaar Farmstay bymekaarkom en lekker saam kuier.

Volgens kol. Donald Mdhluli, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, is die ondersoek rakende Etienne se dood nog lopend, en is geen inhegtenisnames tot dusver gemaak nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button