Gholfdag samel nodige fondse vir Huis Betlehem in
Huis Betlehem is opreg dankbaar vir al die hulp wat hy van die gemeenskap af ontvang.
Mahindra Nelspruit was Huis Betlehem se hoofborg tydens sy vierde suksesvolle jaarlikse gholfdag.
9 September was ’n warm somersdag. Vier-en-twintig spanne het meegeding vir fantastiese pryse. By elke bof was daar verteenwoordiging van plaaslike ondernemings wat gesorg het vir baie pret en plesier.
Huis Betlehem het elke deelnemer, onderneming en skenker bedank vir die bydrae wat hulle tot die dag gemaak het.
LEES OOK: Fondsinsameling ten bate van Moving Mountains in Witrivier gehou
“Die dag was ’n groot sukses. Ons het fondse ontvang wat ons bemagtig om ons kinders te versorg,” sê Mariaan Lourens, die uitvoerende beampte van die Huis Betlehem-trust.
Die algehele wenner van die dag was Armand van Jaarsveld van Tracker Remade se span. Hy was ook die wenner op gaatjie nr. 7 vir die langste dryfhou.
“Baie geluk aan hom en sy spanmaat, Adolf van Jaarsveld, wat dan ook as span die eerste prys gewen het in die beterbal-Stableford-kompetisie. Tweede was Clint Hudson en Tim Walker.”
Westvaal het die prys vir die bof met die meeste gees gewen, en Skankane Transport se bof was die mooiste.
LEES OOK: IN FOTO’S: Twee dae van pret en plesier by Innibos Buitelug Familiefees
“Ons gholfdagpop wat vir die tweede jaar vir ekstra gees gesorg het, het haar naam gekry – sy heet nou Pragpoestertjie, nadat almal ’n kans gewaag het om haar ’n naam te gee. Sy gaan vir seker met elke jaar se gholfdag vir lekker pret en kosbare oomblike op die baan sorg.


“Ons is ook baie trots op ons nuwe webtuiste, www.huisbetlehem.org, waar daar meer inligting rakende Huis Betlehem gevind kan word, asook ’n maklike opsie om ’n skenking te maak.”
Lourens spreek hul opregte dank aan Mahindra Nelspruit vir ’n wonderlike dag, maar beslis ook aan die omliggende gemeenskappe van veral Witrivier en Mbombela, wat hulle so getrou help om hul kinders nou al vir bykans 23 jaar te kan versorg.
