Local news

Voelgoedfoto van plaaslike inwoner pronk op muur in i’langa Mall

Andile Nkambule se foto-inskrywing vir Innibos en TRAC se selfoonfotokompetisie is deur die legendariese Ghost op 'n muur in i'langa Mall aangebring.

Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees het verlede jaar saam met TRAC en i’langa Mall ‘n selfoonfotokompetisie van stapel gestuur met die doel om Laevelders aan te moedig om dít wat hulle gelukkig maak, met hulle selfoonkameras vas te vang.

Henri Gouws, i’langa Mall se bemarkingsbestuurder, sê die doel agter hierdie inisiatief was om vreugde te versprei en ‘n boodskap van waardering en hoop aan ons gemeenskap te beklemtoon. “Die buitengewone verskeidenheid toweroomblikke wat deur die deelnemers vasgevang is, het ons almal weer daaraan herinner dat dit so dikwels die klein dingetjies in die lewe is wat vir ons soveel geluk kan bring,” het hy gesê.

LEES OOK: Grace Family Fellowship to attempt golfing world record in Mbombela

Andile Nkambule is op 2 November as die wenner van dié kompetisie aangewys, vir sy foto-inskrywing waarop hy uitbeeld hoeveel genot ‘n roomys aan hom verskaf.

“Daar was nie ‘n enkele inskrywing wat nie ‘n emosie of ‘n persoonlike herinnering van waardering ontlok het nie. Nkambule se foto het hierdie positiewe boodskap uitgestraal, wat verewig is deur sy groot glimlag terwyl hy sy gunstelingroomys geniet het. Ons glo dat dit ‘n boodskap is wat nog verder gevier moet word, en het besluit om die kuns van die lewe te omskep in ‘n kunswerk soos dié.”

Ter viering van Nkambule se wenfoto het die inkopiesentrum die plaaslike legendariese straatkunstenaar en spotprenttekenaar, Ghost, ofte wel Wouter de Witt, opdrag gegee om ‘n muurskildery in die sentrum te skep wat Nkambule se foto en die gees van i’langa Mall uitbeeld.

LEES OOK: #HaalAsem with these Lowveld father-and-son duos on their journey along the Orange River

Nkambule was met vakansie toe hulle vir hom ‘n foto van die kunswerk gestuur het. “Ek kon nie wag om terug te kom nie,” het hy gesê. “Toe ek dit vir die eerste keer sien, was ek oor die maan gewees. Dit het so onwerklik gevoel, dit was ‘n ‘knyp-my-oomblik!'”

Gouws sê dat i’langa Mall geëerd is dat hulle op dié manier hul waardering kon toon en in die kreatiewe gemeenskap van Mbombela kon belê.

Die muurskildery is op die boonste verdieping van die inkopiesentrum te sien, langs Mr Price, oorkant die mansklerewinkel, Markham.

Back to top button