Local news

Tweejarige van Barberton oorleef te danke aan laaste voorraad teengif

'n Dogtertjie van Barberton het 'n slangbyt oorleef, en haar pa 'n trekkerongeluk buite Mbombela, alles op dieselfde dag.

Te danke aan Lowveld Venom Suppliers (LVS) het Naomie Hattingh, ‘n tweejarige dogtertjie van Barberton, te midde van ‘n teengiftekort ‘n slangbyt oorleef.

Op dieselfde dag, maar net buite Mbombela, was die dogtertjie se pa, Rocco, in ‘n trekkerongeluk betrokke. Hy is vanaf die toneel met ‘n helikopter na die hospitaal geneem.

> Photo: Emer-G-Med

Donderdag 6 April was vir seker nie ‘n voorspoedige begin tot Paasfees vir dié pa en dogter nie.

Dié middag het Naomie se ma, Marica Ekkerd, ‘n oproep ontvang dat haar dogtertjie by die skool deur iets gebyt is.

Hulle het haar na hul dokter op Barberton geneem. Daar het hulle die vrou geskakel wat by die skool na haar gekyk het, want die dokter wou weet of sy gesien het wat vir Naomie gebyt het.

LEES OOK: Osse en -waens kan geliefdes weer in Witrivier bymekaarbring

Die vrou het gesê hulle het na die area gaan kyk waar Naomie gespeel het en ‘n slang gesien. Hulle kon egter net bevestig dat sy onderkant silwergrys was voor hy weggekom het. Hulle was ook nie seker of die slang haar wel gebyt het nie.

Die dokter het vir haar antibiotika voorgeskryf, maar later daardie middag het haar toestand vererger.

“Sy het begin opgooi dat dit by haar neus en mond uitkom, sy het gesukkel om asem te haal en sy kon nie op my stem reageer nie,” sê Ekkerd.

Vandaar het hulle ‘n ambulans gebel, maar ook intussen na die naaste hospitaal gegaan om Naomie stabiel te kry. Toe die ambulans arriveer, het hulle haar suurstofvlakke gestabiliseer en haar na Mediclinic Nelspruit gehaas.

Weens haar simptome was die vermoede dat sy deur óf ‘n kobra óf ‘n mamba gebyt is. Sy het dringend teengif nodig gehad en is op ‘n ventilator geplaas. Die hospitaal het egter weens die landswye tekort aan teengif, geen in voorraad gehad nie, het Mediclinic se woordvoerder, Liza Pillay, bevestig.

LEES OOK: Tegnologie kan dié Laevelder help om weer gholfballe te moker

Gelukkig, soos dit ook in November gebeur het, het Chris Hobkirk van LVS tot haar redding gekom. Hy het sy laaste teengif aan die hospitaal gegee.

Naomie is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan en haar ma sê dit gaan goed met haar. “Die merke op haar hand is al weg.”

Ekkerd het haar dankbaarheid teenoor die hospitaal, paramedici en LVS uitgespreek, wat almal ‘n rol gespeel het in die redding van haar dogtertjie se lewe.

“En dan laaste, dankie aan al die mense wat vir klein Naomie gebid het. As dit nie vir hulle was nie, sou ons dit nie tot hier gemaak het nie.”

Naomie se pa het wonderbaarlik geen bene gebreek tydens sy voorval nie. “Ek het die trekker uit rat gehad en probeer om dit te jump-start. Toe ek weer sien, draai die agterwiel en kon ek nie wegkom nie. Dit is toe oor my linker- en regtervoet en teen my linkerbeen op en oor my middellyf en by my bors af. Ek is oukei, maar net nog seer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button