Local news

Titaniese stryd woed tussen Nelspruit en Witrivier se rugbyklubs

Dit is altyd 'n vurige affêre wanner die rugbyklubs van Nelspruit en Witrivier mekaar aanpak. Verlede Saterdag was geen uitsondering nie.

Hulle is dalk vriendelik van die veld af, maar op die veld het hulle geen ooghare vir mekaar nie.

Nelspruit en Witrivier Rugbyklub se eerste en tweede spanne het mekaar 13 Mei op Witrivier in die tweede ronde van die klub se premierliga aangevat.

Die bosveldvure het hoog langs die veld gebrand en die geur van braaivleis en die gesellige geruis van die skare het in die lug gehang.

LEES OOK: Dubbele rugbysege vir dié Laeveld boeties

In die eerstespanwedstryd was die spelers van Nelspruit Rugbyklub vasbeslote om hul beste voetjie voor te sit, maar die manne van Witrivier het hul tuisvoordeel in hul guns gebruik en reeds binne die eerste paar minute vir hul eerste drie oorgedraf.

‘n Reeks drieë vir die span in rooi het daarna gevolg en dit het geblyk of die besoekers geen antwoorde vir hulle het nie. ‘n Bietjie verligting het vir Nelspruit gekom in die doodsnikke van die eerste helfte, te danke aan ‘n drie deur Vic Swan.

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit betower met ‘n musiekreis deur tyd

Die rustydtelling was 49-5 in die guns van Witrivier.

Nóg punte is deur die besoekers aangeteken om hul telling na 10 te vermeerder, maar die koeël was klaar deur die kerk.

Witrivier het hierdie stryd oortuigend met 56 teenoor 10 gewen.

Sake het ook nie so goed gegaan vir Nelspruit se tweede span nie.

LEES OOK: Spiere bult tydens Underdog Nelspruit se tweede kompetisie

In hul kragmeting het Billy Botha en Sibusiso Kubayi beide 10 minute op die sondebank deurgebring. Teen rustyd het Witrivier ‘n 21-0-voorsprong gehad wat tot 45-14 aan die einde van die volle 80 minute gestrek het.

Elke keer wat dié twee kante ontmoet, is die stryd nie net op die veld nie. Die toeskouers was ‘n goeie mengsel van toejuiging en snedigheid, maar op die einde van die dag is alles gedane sake, en dit wat op die rugbyveld gebeur, bly op die rugbyveld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button