Local news

Bravo vir Mbombela se skoolkore!

Die lede van hierdie hoër- en laerskoolkore het hul stemme dik gemaak in die eerste ronde van die ATKV Applous-koorkompetisie.

Laerskool Nelspruit het Vrydag, 12 Mei, by die ATKV se jaarlikse Applous-koorkompetisie gasheer vir die kore van Hoërskool Nelspruit (NHS), Lowveld High, Curro en Laerskool Bergland gespeel.

Die oggend was gevul met die pragtige stemmetjies van die juniorkore, en uitstekende gebruik van die verskillende stempartye deur die seniors.

ALSO READ: Laerskool Laeveld groet ‘n legende na 36 jaar

Veral Laerskool Bergland se seniorkoor het met hul optrede verras toe die unieke klanke van ‘n xilofoon in hul optrede gebruik is. Dié koor se weergawe van Coldplay en The Chainsmokers se “Something Just Like This” was ook hoendervleismooi.

Beide Curro se kore het met hul stemgebruik en gebruik van perkussie bekoor om hul optrede te versterk.

‘n Luide applous het deur die skoolsaal weerklink ná Laerskool Nelspruit se optredes. Dié twee kore het hul staal met twee uitstekende vertonings gewys.

ALSO READ: Spiere bult tydens Underdog Nelspruit se tweede kompetisie

Lowveld High het in groot getalle opgedaag – dít kon duidelik op die verhoog gehoor word. Hulle het ekstra energie aan die dag verleen deur hul geesdrif en entoesiasme.

Verder het NHS se dogterkoor ook hul stempel afgedruk deur ‘n vertoning te lewer wat van ure se oefening gespreek het, want dit is bykans perfek uitgevoer.

Na lekker kopkrap en ‘n heen-en-weer-debat het die ATKV-beoordelaars die volgende sertifikate uitgedeel:
• Curro Primary: junior- en seniorkoor, beide silwer
• Laerskool Nelspruit: junior- en seniorkoor, beide goud
• Laerskool Bergland: juniorkoor, silwer
• Lowveld High: silwer
• Hoërskool Nelspruit: dogterskoor: goud.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button