Huis in puin ná vlammehel in Lydenburg
80 wedvlugduiwe het ook verkool in hul hokke tydens die brand in Rivierstraat.
Chris Kotze (66) moes magteloos toekyk hoe sy huis, buitekamers, Wendy-huis en 80 wedvlugduiwe in ’n vlammehel vernietig word. Op Vrydag tussen 09:45 en 10:15 het ’ n leeftyd se herinneringe tot op die grond afgebrand.
‘‘Ek was besig op die erf toe ek het die huiswerker hoor gil: ‘Daar is vlamme in die buitekamer!’ Ek loop baie moeilik. Teen die tyd wat ek daar aangekom het, was dit duidelik ons van die erf af moet vlug. My huiswerker sê sy het die vlamme om 09:45 gesien, en binne ’n halfuur was alles verwoes,’’ het Kotze gesê.
Daar het altesaam ses mense op die erf gebly. Kotze het die buitekamers en Wendyhuis verhuur. Die huurders is na familie en vriende, wat bereid was om hulle in te neem.
Lees ook: Dis toe nooit asma nie

‘‘Die huurders het ook alles verloor. ’n Paar wit veertjies was al wat oorgebly het van een van die duiwe. Die ander duifies het soos stukkies as in hul hokkies gelê. Ek neem nie meer self aan wedvlugte deel nie, maar baie duiweklubs koop hul wedvlugduiwe by my,’’ het Kotze gesê. Teen Vrydagaand was daar reeds ’n karavaan vir Kotze om in te slaap. Marius Opperman leen dit aan hom totdat ’n Wendy-huis gebou kan word.
‘‘Ons het saam met die oom besluit om vir hom ’n groot Wendy-huis te bou met elektrisiteit, ’n badkamer en kombuis. Die erfie behoort reeds aan hom. Cathy Schutte het ’n Wendy-huis geskenk wat as die eerste vertrek sal dien. ’n Maatskappy het die afgelope naweek reeds hout afgelaai, maar ons gaan nog baie hout benodig. Willie Nel het ‘n kamptoilet geskenk wat die oom intussen kan gebruik. Mense het my ook gebel om almal se kleregroottes en skoennommers uit te vind. Mense is welkom om my te kontak. Hulle gaan nou wintersklere benodig. Ons bedryf Wings of Gratitude as ‘n organisasie sonder winsbejag. Daardeur het ons aan die oom en die ander wat hul eiendom in die brand verloor het, kos verskaf. Die mense het slegs die klere aan hul lywe oor. Alles is verwoes. Die oom het nie eers ‘n bed nie,” het Toinette Keel van Wings of Gratitude gesê.
Indien daar enige skenkings of kontantdonasies is, skakel vir Keel by 072 680 2434. Bevestig asseblief met haar of daar reeds skenkings gemaak is en of dit hulle bereik het, asook die kontant.
Alle geld moet direk in Wings of Gratitude se rekening inbetaal word. ‘n Sekuriteitsmaatskappy het aangebied om die skenkings te stoor tot die Wendy-huis klaar gebou is. Die oorsaak van die brand word nog ondersoek.

