Lydenburg se ossewaens na Voortrekkermonument
Vier van Lydenburg se geskiedkundige ossewaens het die sowat 300 km na Tshwane aangepak.
Die waens is op 20 Julie deur die Voortrekkermonument en die Rapportryersvereniging in Lydenburg afgehaal. Dit is deur Jennie Viljoen, die oorlede Stoffel se vrou, aan die Voortrekkermonument geskenk. Dit was vir 25 jaar in hulle besit.
Hy was ’n man met ’n passie vir oudhede, en het versamelstukke en kosbaarhede gehad wat menige museum graag sou wou besit. Behalwe die waens het hy ook ’n outydste smidswinkel gehad, en kinders en toeriste gewys hoe om wiele te maak en met ’n blaasbalk te werk.
Hy en sy vrou het kultuurhistories geleef en elke dag op ’n koolstoof kos gemaak en selfs seep en kerse met varkvet gemaak.
Hy het hul huis in Buhrmannstraat selfs De Wagensrust genoem. Hierdie huismuseum was vir baie mense ’n unieke deel van Lydenburg sedert die laat 1990’s.

“Ek word nie jonger nie en moes besluit wat om met die waens te doen. Daarom is ek so dankbaar dat die Voortrekkermonument dit nou gaan bewaar om ook vir die jonger generasie die ervaring van ossewaens te gee. My man is reeds in 2007 oorlede, en ek het die jare na sy dood die huismuseum en waens tot die beste van my vermoë bewaar. Die Voortrekkermonument gaan die waens interaktief uitstal, dat daar opgeklim kan word en selfs daarin oorgeslaap kan word,” het Jennie gesê.
Die Voortrekkermonument het tans 18 ossewaens en beskou homself as ’n kultuurtuiste vir geskiedenis.
Lees ook: Wildevy 4×4 is om die draai
Die Rapportryers het die Voortrekkermonument bygestaan om die waens te vervoer. “Dit is vir ons ’n groot voorreg om in die posisie te kan wees om hande met ander kultuurorganisasies en individue wie se harte klop om ons Afrikanererfenis te bewaar, te kan vat. Vanjaar is die 185ste herdenking van die Slag van Bloedrivier en die Groot Trek. ‘n Projek soos hierdie help om die gemeenskap weer bewus te maak van ons geskiedenis,” het Jaco Cilliers van die Voortrekkermonument gesê.
“Die samewerking tussen die Rapportryers en die Voortrekkermonument is vir my van kardinale belang. Ons beskou dit as ’n voorreg om vir hierdie waens ’n tuiste te wees. Die lede van die Rapportryers is aktief betrokke om die geskiedenis vir die nageslag te bewaar,” het die Rapportryers se president, Johan Roos, gesê.
Hierdie waens is ook jaarliks ingespan vir die geskiedkundige optog van Rusoord Lydenburg deur die dorp. Sommiges is deur trekkers getrek, en die bejaardes het elke jaar daarna uitgesien. Die optog is nie van die baan af nie en sal net in ’n ander formaat plaasvind.


