Geniet Esmé Naudé se uitstalling op plaas buite Lydenburg
Dié bekende kunstenaar se meesterlike kreatiwiteit op doek is 'n visiuele belewenis. Hier is hoe jy dit van naderby kan sien.
‘n Kunstenaar wat min bekendstelling in Lydenburg-omgewing en selfs landsdwyd nodig het, is Esmé Naudé.
Haar vriende en nuwe vriende wat haar kuns graag wil ontdek, word uitgenooi na ‘n eksklusiewe uitstalling oor drie dae by haar huis in die Watervalsriviervallei (op die R37 tussen Lydenburg en Burgersfort).
Kunsliefhebbers kan op 19, 20 en 21 Oktober by Esmé gaan kuier. Kaartjies is R120 per persoon en sluit koek en tee in.
Die pragtige plaas waarop sy en haar man, Frik, bly, is ook waar haar kunsgallery is. Dit is ‘n ruimte waar haar kreatiwiteit floreer en waar besoekers hulself in die skoonheid van haar kunswerk kan verdiep.
FOTOS: Geure wat die mond laat water by Longtom Potjiekoskompetisie buite Lydenburg
Sy verkies dit om met olie op bord te verf en werk meesterlik met ‘n paletmes om die kenmerkende impasto-styl te skep, wat haar stukke met boeiende teksture en diepte laat. Haar kundige gebruik van lewendige en gewaagde kleure vul haar werk met ‘n onmiskenbare lewe en vang die essensie van ‘n oomblik met elke kwashaal vas. Deur die jare is Esmé se kunsreis gekenmerk deur talle uitstallings wat lof en erkenning gekry het.
Die uitstallings op 19 en 20 Oktober is vanaf 10:00 tot 18:00 en op 21 Oktober is dit vanaf 10:00 tot 13:00. Vir meer inligting, skakel Esmé Naudé by 084 513 4791 of Anaïs Strydom by 072 838 8384.
