Du Toit-Smuts & Vennote Prokureurs en Laevelder samel saam R180 000 vir liefdadigheid in
Daar is gejuig en handdrukke uitgedeel vir elke goeie bal wat geslaan is, asook vir die uitstekende, soms gelukkige, setwerkpogings. ’n Paar versugtinge is ook gemaak oor die nie-so-goeie gholfhoue hier en daar nie. Ongeag of dit goed óf sleg gegaan het op die baan, die dag was ’n reusesukses en vet pret vir almal.
Vrydag die 13de is ’n dag wat in die Westerse kultuur sinoniem geword het met teëspoed en vrees. Dié dag was egter verlede week in ’n heel ander rooi baadjie getooi.
Die jaarlikse Du Toit-Smuts & Vennote Prokureurs en Laevelder Gholfdag, waarvan Absa die aandfunksie se borg was, het by die Mbombela Gholfklub plaasgevind.
’n Vol baan van 156 kranige gholfspelers het byeengekom om dié dag saam ten bate van die Dasha Foundation, Huis Betlehem en Laeveldrus te geniet.
LEES OOK: A perfect blend of food and wine during a night out at Zest
Net soos met ander jare het die borge hulself oortref, en by amper elke putjie van dié 18-gaatjie baan is die spelers goed besig gehou met óf ietsie om te drink óf ietsie om aan te peusel, óf ‘n prettige uitdaging.
Daar is gejuig en handdrukke uitgedeel vir elke goeie bal wat geslaan is en die ongelooflike bunkerhoue en uitstekende, soms gelukkige, setwerkpogings. ’n Paar versugtinge is ook gemaak oor die nie-so-goeie gholfhoue hier en daar nie. Vir die laasgenoemde het Vrydag die 13de toe wel geblyk om waar te wees.
Ongeag die soms moeilike tye op die baan, het die spelers hulself gate uit geniet. Die kameraadskap onder die spelers op die baan en op die klubhuisstoep het getuig van die gees by die langverwagte jaarlikse geleentheid. Vriendskappe is versterk en nuwes is gesmee.
Vir meer foto’s volg dié skakel: IN FOTO’S: Pret en plesier by Du Toit-Smuts en Laevelder se gholfdag
Du Toit-Smuts & Vennote Prokureurs en Laevelder het dit reggekry om altesaam R180 000 vir die drie liefdadigheidsorganisasies in te samel. Hierdie fondse sal vir seker ’n baie welkome vroeë Kersgeskenk wees.
Die spel het die formaat van ’n Scramble-dryf vierbal-alliansie aangeneem, wat in dié geval beteken het dat slegs die twee beste tellings per putjie bymekaargetel is om die span se punt vir die spesifieke putjie te bepaal.
