‘n Oggend van rugbysake met die Pumas in Mbombela
Oktober is omtrent op ’n hoë noot afgesluit met hope rugby. Nie net het die Springbokke die Rugbywêreldbeker gewen nie, maar die Pumas se sakeontbyt het ook gesorg vir groot geselligheid by die Emnotweni Arena.
Op die laaste Bok-Vrydag voor die Rugbywêreldbekereindstryd beslis is, was die Pumas se sakeontbyt wat op Vrydag, 27 Oktober by die Emnotweni Arena gehou is, eerder pienk as groen.
Altesaam 450 Laevelders, uitsluitend die Pumas-spelers en -bestuur, het dié dag meegemaak om saam met die Laeveldse rugbyhelde en oud-Springbokke Frans Steyn en Breyton Paulse te kuier.
“Dit was ‘n vreeslike groot sukses!” kom dit van die hoofbreier van die Airlink Pumas, Jimmy Stonehouse, af. Hy sê dat dit nie net toegeskryf kan word aan die hoeveelheid mense wat opgedaag het nie, maar ook hoe die verrigtinge verloop het. “Die manier hoe die mense geluister het, saam gepraat en saam gekuier het – dít was ‘n ongelooflike belewenis.”
Die doel van die ontbyt was om Mpumalanga se sakemanne en -vroue by die Pumas-familie te betrek. Stonehouse het in Julie vanjaar op sosiale media ‘n beroep op weldoeners gedoen om in die aanloop tot die 2024-rugbyseisoen by die span betrokke te raak.
“Ons glo die Pumas kan ‘n internasionaal erkende handelsmerk word, maar ons kan dit net doen as die Laeveldse sakeondernemings hierby inkoop,” het hy vroeër aan Laevelder vertel.
LEES OOK: Oud-Nellie borg ‘kant’ in Bongi se eer
By die sakeontbyt het Stonehouse weer eens ‘n beroep op sakelui gedoen om die span en unie te ondersteun. Hierdie was sy woorde: “Jy help om ‘n nalatenskap na te laat.”
“Die idee agter die ontbyt was om mense te kry om in te koop in die span sodat ons standvastig kan raak,” het Stonehouse ná die ontbyt vertel. “Ons sal graag internasionale kompetisie hiernatoe wil bring. Oorsese spanne gaan op óns lughawe land, die dorp gaan ontpop, die dorp kan groei. Ons kan nóg [Springbok-] toetse hierheen bring.
“Ons wil graag hê die Laeveld moet saam met ons staan.”
Buiten die ernstige gesprekke is daar deur die loop van die oggend lekker saam gelag, gesing en geëet, en natuurlik – die rede waarom almal eintlik daar was – rugby gesels. Die gesprekke is deur Paulse gehou, wat self ‘n gesoute kommentator en deel van die SuperSport-span is. Die onderwerpe was onder meer die Pumas se spelpeil, die span se suksesse die afgelope paar jaar en hul betrokkenheid by die Laeveldse gemeenskap.
Steyn en Stonehouse het ook lekker saam oor hul tyd in Japan as deel van die Toshiba Brave Lupus gesels – Stonehouse as afrigter en Steyn as speler.
LEES OOK: Van Hollywood na die Laeveld tydens Laerskool Nelspruit se revue
Nóg een van die gesprekke tussen dié paneel kenners het onder andere gehandel oor die Rugbywêreldbekereindstryd wat die daaropvolgende dag beslis is.
Egte Springboktruie, die ware Jakob, wat deur die spelers gedra is, is deur onderskeidelik Steyn en Paulse opgeveil, en natuurlik is daar ‘n minuut of twee afgeknyp vir Stonehouse om die gunsteling, “Sweet Caroline”, te sing.


Na afloop van die ontbyt was daar tot dusver nog net goeie terugvoer aan die Pumas-breier en sy span. “Die ontbytgangers het die ouens [Steyn en Paulse] gelove en die geleentheid baie geniet.”
Hulle het dit só geniet dat hulle selfs ná die sakeontbyt aangebly het vir nog so ‘n paar uur se geselligheid.
Enige weldoeners wat belangstel om die Pumas se steun op ’n finansiële wyse, kan die volgende dokument aflaai en invul:

