IN FOTO’S: Juanita du Plessis het Laevelders aan die Ska-Rumba in Mbombela
Juanita du Plessis het haar aanhangers in die Laeveld vermaak met al hulle ou gunstelinge by Mustangs - The Dancing Place.
Laevelders het Saterdagaand, 11 November, die Buffelsfontein Arena by Mustangs – The Dancing Place volgesit om een van die lieflinge van Afrikaanse musiek en die een verantwoordelik vir die trefferliedjie “Ska-Rumba”, Juanita du Plessis, te sien optree.
Du Plessis het niks teruggehou nie en haar beste voetjie voorgesit om ‘n skouspelagtige vertoning aan haar aanhangers te lewer, iets wat hulle nie sommer gou sal vergeet nie.
Sy het van haar grootste Afrikaanse treffers soos die ou gunstelinge “Bly by my”, “Tussen woorde” en “Mengelmoeskardoes” gesing en ook die mees onlangse “Hambamba” en “Liewe Jinne”. Du Plessis het ook haar liedjietas vir haar Engelse aanhangers met “Just an Illusion” oopgemaak.
LEES OOK: FOTOS: Geure wat die mond laat water by Longtom Potjiekoskompetisie buite Lydenburg
Tydens haar optrede het sy haar geliefde “Dis tyd” aan die gehoor opgedra. Sy het gesê dié liedjie is vir diegene wat kies om die verlede en die negatiewe te laat gaan en bewustelik besluit om in stede daarvan, uit te sien na wat die toekoms inhou.
Soos verwag het oud en jonk uit volle bors saam gesing en ritmies op die maat van haar liedjies beweeg. Dit was ‘n jolige affêre soos min.
LEES OOK: IN FOTO’S: Potte prut en water spat tydens Laerskool Nelspruit se fees
Du Plessis is geen vreemdeling in die Laeveld nie. Sy het al verskeie keer vantevore hier kom besoek aflê, insluitend by van die provinsie se grootste vermaaklikheidsgeleenthede, die Mpumalanga Skou en die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees.








