Local news

Talentvolle Laevelders skitter by SA’s

Die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste is jaar na jaar ’n hoogtepunt op jongelinge se kultuurkalenders. Hulle sing, dans en speel elke jaar hul harte op die verhoog uit. Hierdie jaar was geen uitsondering nie, met 17 van Mpumalanga se bestes gekies om die land op die groot verhoog in die VSA te gaan verteenwoordig.

Verskeie talentvolle jong mense het onlangs aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste deelgeneem.

Die nasionale kompetisie is aan die einde van September, begin Oktober in Rustenburg gehou. Al nege van die land se provinsies is hier verteenwoordig. Die dansers, modelle, sangers en dramastudente het elkeen ’n kans gehad om hulle talente ten toon te stel.

Altesaam 17 leerders van Mbombela wat by die oudisies uitgeblink het, het aan die nasionale kompetisie gaan deelgeneem. Sestien van hierdie deelnemers is gekies om Suid-Afrika by die wêreldkampioenskappe wat in Los Angeles, Kalifornië, aangebied gaan word, te verteenwoordig.

LEES OOK: ‘n Musikale meesterklas saam met Rocco de Villiers in Mbombela

Die dramaleerders, onder leiding van Frances van Niekerk van Finesse Studio, het briljant in hul groepstukke en hul individuele opvoerings gevaar. Hoërskool Nelspruit se Ronel Basson het agt goud en een silwer huis toe gebring en is ook as die algehele wenner in die 16-24-ouderdomsgroep aangewys. Twee ander Nellies, Marné Pretorius en Anika van Staden, het onderskeidelik vier goud en een silwer, en vier goud, een silwer en een brons ingewin.

Mia Basson van Laerskool Bergland het vyf goue en twee silwer toekennings ingepalm. Laerskool Nelspruit se Anke Strydom het vier goud, twee silwer en een brons ontvang.

Die twee akteurs van Laerskool Laeveld, Chris en CT Scheepers, het ook baie goed gevaar. Chris het vier goue, drie silwer en een brons toekenning ontvang, terwyl CT met vier goud, twee silwer en twee brons spog.

Laerskool Witrivier se Uanel le Roux en Leandri Pretorius het met vyf goud en een silwer elk weggestap.

LEES OOK: New one-stop flea market stall shop coming to Mbombela soon

Chriské Schwirzer, Omphile Diale en Lebo Diale van Curro Nelspruit is al drie gekies om die land tydens die wêreldkampioenskappe te verteenwoordig. Tussen hulle het hulle drie goue en agt silwer medaljes huis toe gebring.

Kamogelo Khumalo het twee goue en twee silwer medaljes vir haar modelwerk gewen, terwyl Jayden Philander van Hoërskool Bergvlam ook ’n silwer ontvang het. Arkua Zulu het nie ’n medalje vir haar tyd op die loopplank gewen nie, maar haar punte was steeds hoog genoeg om vir die nasionale span wat na Los Angeles gaan toer, in aanmerking te kom.

In die sangafdeling het die leerders ook uitstekend presteer, al was die kompetisie van hoogstaande gehalte. Drikus Claassens van Hoërskool Nelspruit ontvang drie brons medaljes en een silwer. Arkua Zulu het ’n silwer medalje vir dans verower.

Baie geluk aan hierdie uiters talentvolle leerders!

 
Back to top button