Local newsSchool sportSchools

Hoërskool Nelspruit bevestig sy posisie in groep 2 van die Superinterhoër

Hoërskool Nelspruit se atletiekspan het onlangs baie goed in groep 2 van die NWU Superinterhoër gevaar, waar hulle 'n welverdiende derde plek gekry het.

Nadat die Nellies verlede naweek by die spannende BUCO Laeveld-interhoër aan die wenkant was, het die veel kleiner span (slegs een atleet per item) na Pretoria gereis waar hulle op Woensdag 28 Februarie teen sewe ander skole in groep 2 van die jaarlikse NWU Superinterhoër in aksie was.

Dit was vanuit die staanspoor ’n geval van klippe kou, want die Rand se atletiek word op ’n baie hoë standaard bedryf. Om aldaar jou stempel te kan afdruk is meer as net ’n groot uitdaging! NHS se dogters was weer kookwater en het uiteindelik met 375 punte tweede ná Transvalia (407) geëindig. Hulle is gevolg deur Rustenburg (343), Klerksdorp (340), Monument (320), Randburg (302), Oos-Moot (249) en Prestige College (202).

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit’s team swims away with 2024 Interhigh Gala champions’ title in Mbombela

Wat die seuns betref was die Laevelders deurgaans met hulle rûe teen die muur. NHS het hier ’n vierde plek (309,5) ingeneem, ná Klerksdorp (410), Rustenburg (374) en Monument (325). In die proses reken die Nellies met Oos-Moot (302,5), Randburg (276), Transvalia (273) en Prestige College (250) af. Ongelukkig het NHS heelwat punte ingeboet toe ’n paar van die manne te haastig was en te vroeg weggespring het.

Simoné Lourens het ná sy geval het, deurgedring om steeds ‘n silwer medalje te ontvang in die dogters o. 16 se 400 m-hekkies.

Toe die eindtotale bekend gemaak is, was dit Klerksdorp, wat opvallend heelwat sterker as in 2023 is, wat as wenners van groep 2 gekroon is. Hulle algehele totaal van 750 het Rustenburg (717) en Nelspruit (684,5) in die tweede en derde plekke ingedwing. Transvalia (680) was ’n kortkop agter NHS, gevolg deur Monument (645), Randburg (578), Oos-Moot (551,5) en Prestige College (462). Laasgenoemde skool skuif dan volgende jaar af na groep 3, terwyl Klerksdorp in groep 1 sal meeding.

LEES OOK: IN PHOTOS: BUCO Interhigh 2024 – Hoërskool Nelspruit

’n Dogter wie se naam vir seker spesiale vermelding verdien, is Simoné Lourens (d. 16). In die 400 m-hekkies was sy los voor en sou sy ongetwyfeld goud gewen het. Sy het egter in die pylvak oor ’n hekkie gestruikel – en baie hard met die tartanbaan kennis gemaak!

Vian Louw het ‘n brons medalje ontvang in die seuns o. 16-gewigstootitem.

Dit was duidelik dat Simoné baie seer gekry het, en na sy vir ’n sekonde of wat plat op die baan bly lê het, het sy swaar opgestaan en besluit om desondanks tog die wedloop te voltooi. Sy het die wenstreep in die tweede plek bereik en met ’n tyd van 69,63 sek. steeds ’n baie goeie 808 ASA-punte verdien!

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit se tennisdogters slaan kishou by Groot 5 Toernooi in Mbombela

Voorwaar ’n atleet vir wie die hoed hoog gelig moet word – en ’n dogter wat daardie silwer medalje letterlik en figuurlik op die harde manier verdien het!

Die volgende Nellies het uitstekend gevaar en medaljes ontvang (ASA-punte van 800 en meer word aangedui):

Goud (eerste plekke):
• Zoë Cilliers (d. 16): 100 m – 12,29 sek. (892); ook 200 m – 25,56 sek. (878)
• Dané van der Walt (d. 15): gewigstoot – 11,85 m (837)
• Elizma de Villiers (d. 17): hoogspring – 1,55 m
• Zané Nel (d. 16): gewigstoot – 12,44 m (848)
• Jordan Pretorius (s. 17): 110 m-hekkies – 15,33 sek.; ook verspring – 6,36 m
• Anele Mkhonto (s. 17): 800 m – 1:57;78
• Owen Ngwenya (s. 16): hoogspring – 1,75 m
• Naudé Breytenbach (s. 14): 400 m – 55,19 sek.

Silwer (tweede plekke):
• Chenade Botma (d. 14): 100 m – 12,91 sek. (830); ook 400 m – 61,58 sek. (809); en verspring – 4,98 m
• Marieke Wasserman (d. 14): 300 m-hekkies – 47,49 sek. (836); ook 200 m – 27,14 sek. (806)
• Ava Oosthuizen (d. 19): 3 000 m – 11:49;87 (sy is vanjaar nog o. 16)
• Simoné Lourens (d. 16): 400 m-hekkies – 69,63 sek. (808)
• Zané Nel (d. 16): skyfwerp – 36,43 m (858)
• Leyla Wienand (d. 15): 300 m-hekkies – 49,34 sek.
• Roejandi Coetzee (d. 16): hoogspring – 1,55 m
• Lana Theron (d. 15): 200 m – 26,69 sek. (820)
• Juané le Roux (d. 17): skyfwerp – 35,12 m (822)
• Leney Maree (d. 14): 1 500 m – 05:02;94
• Levandi Hough (d. 16): verspring – 5 m
• Mia du Preez (d. 14): gewigstoot – 11,15 m (822)
• David Botha (s. 19): spiesgooi – 56,47 m
• Joshua Fincham (s. 19): 800 m – 02:00;49 (hy is nog o. 17)
• Ian Wood (s. 19): 100 m – 11,23 sek.
• Julian Middel (s. 14): 1 500 m – 04:49;12
• Tye Habib (s. 16): verspring – 6,32 m
• Rian Botha (s. 16): spiesgooi – 50,39 m
• Anele Mkhonto (s. 17): 1 500 m – 04:14;25 (818)
• Jacques Bouwer (s. 17): spiesgooi – 46,69 m
• Jacques Winterbach (s. 14): gewigstoot – 12,82 m
• Owen Ngwenya (s. 17): driesprong – 12,57 m (hy is nog o. 16.)

Brons (derde plekke):
• Juané le Roux (d. 17): spiesgooi – 34,03 m; ook gewigstoot – 10,94 m
• Sheba Sithole (d. 17): 800 m – 02:27;04; ook 1 500 m – 05:00;67
• Menique van Zyl (d. 16): 800 m – 02:27;12; ook 1 500 m – 5:17;57
• Azelle du Preez (d. 17): 400 m-hekkies – 68,21 sek. (821)
• Lourica van der Merwe (d. 19): spiesgooi – 30,37 m (sy is nog o. 17.)
• Lana Theron (d. 15): 100 m – 13,07 sek.; ook 400 m – 64,77 sek.
• Diané van der Walt (d. 15): skyfwerp – 27,61 m
• Leyla Wienand (d. 15): 90 m-hekkies – 14,82 sek.
• Marieke Wasserman (d. 14): 90 m-hekkies – 15,22 sek. (800)
• Zoë Cilliers (d. 16): 100 m-hekkies – 15,97 sek.
• Jessica Nel (d. 19): hoogspring – 1,45 m
• Vian Louw (s. 16): gewigstoot – 13,62 m; ook skyfwerp – 42,55 m
• Menzi Shiba (s. 16): 400 m-hekkies – 58,02 sek.
• Rhandzu Mkhabela (s. 15): 300 m-hekkies – 42,75 sek.
• Julian Middel (s. 14): 800 m – 02:18;80
• Ethan Green (s. 16): 800 m – 02:01;67
• Ian Wood (s. 19): 200 m – 22,24 sek.
• Henru Herbst (s. 16): 1 500 m – 04:23;51
• Wiaan von Benecke (s. 19): driesprong – 12,65 m
• Charl van Dort (s. 14): hoogspring – 1,65 m.

Hoërskool Nelspruit se atlete het dié jaar baie goed in hulle items by die Superinterhoër presteer. > Foto’s Hoërskool Nelspruit/Facebook

 
Back to top button