Innibos verken klassieke klanke in die Krugerwildtuin

Classics in the Wild in die Krugerwildtuin beloof om weer eens uit die boonste rakke te wees.

Die Ereveldwagters van SANParke se Laeveld-streek en Innibos Kunstefees bied vir die tweede jaar gesamentlik ’n klassieke musiekkonsert aan om fondse vir natuurbewaring in die wildtuin in te samel.

Die konsert Classics in the Wild word op Vrydag, 7 Junie, en Saterdag, 8 Junie, by die Mdluli Safari Lodge naby die Numbi-hek gehou.

Verlede jaar is kaartjies vir die optrede van die Schonnbrünn-ensemble in Skukuza blitsig opgeraap en kon ’n stewige geldelike bydrae tot die ereveldwagters se fondse vir bewaringswerk in die Krugerwildtuin gemaak word.

Lees ook: Innibos 2024 beloof om ’n wenresep te wees

Vanjaar tree die Apple Green Orkes onder leiding van Tim Roberts op. Roberts is direkteur van die Johannesburg Bach-koor, ’n bekende dirigent, die artistieke direkteur van die St Francis Musiekfees wat jaarliks in Parktown, Johannesburg, gehou word en lid van die Phoenix Ensemble onder leiding van Richard Cock.

Sinesipho Mnyango.

Cock is medesamesteller van die program in die Krugerwildtuin. Sinesipho Mnyango, ’n jong sopraan wat besig is om opgang te maak en ook reeds saam met Cock opgetree het, is die solis. Werke van Strauss, Mozart, Bach, Puccini en Brahms is op die musiekspyskaart, asook dié van moderne komponiste Elton John, Gershwin en selfs Abba, met ’n klassieke geurtjie!

“Dit is vir Innibos heerlik om betrokke by dié fondsinsameling te wees en by te staan met die beplanning. Die Krugerwildtuin is werklik ’n toerismekka, maar die belangrikste is die bewaringswerk wat nie altyd aan die groot klok gehang word nie en waartoe die Laeveld-streek se ereveldwagters ’n reusebydrae lewer ,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingbestuurder van Innibos.

Lees ook: Musiekteater gaan jou by Innibos oorrompel

Graeme Cole, streekshoof van FNB se kommersiële bankwese, sê as hoofborg van die konsert is dit vir FNB belangrik om aktief betrokke by omgewingsbewaring te wees en die vrywillige werk van die ereveldwagters te ondersteun.

Tim Robberts.

Nelspruit Ford en Malalane Ford ondersteun ook hierdie fondsinsamelingsgeleentheid. Lorinda Roux, handelaarshoof, sê: “Ford en die Ford Wildlewe Stigting is passievol oor omgewingsbewaring en -ondersteuning die afgelope 30 jaar. Met dié dat ons aanliggend tot die Krugerwildtuin is, is dit vir ons belangrik om die SANParke se Ereveldwagters te ondersteun en ’n betekenisvolle bydrae te lewer.”

Kaartjies kos R1 150 per persoon en sluit ’n verwelkomingsdrankie en peuselhappies in. Daar is ook ’n kontantkroeg.

’n Pendeldiens van Mbombela is beskikbaar teen R150 per persoon, en is gratis van Skukuza en Pretoriuskop na Mdluli Safari Lodge.

Konsertgangers wat in die Krugerwildtuin slaap, sal nie van hul eie vervoer gebruik kan maak nie. Akkommodasie is beskikbaar in onder meer Skukuza, Pretoriuskop, Nkambeni Safari Lodge en verskeie lodges omliggend aan die Kruger. Mbombela- en Witrivier-inwoners kan natuurlik met die pendeldiens heen- en terugreis.

Konsertkaartjies is by Quicket te koop.

Exit mobile version