George tot Mbombela: Elvis Blue skop sy fietstoer na Innibos af
Hy ry manalleen op sy fiets vanaf George tot in Mbombela, waar die Innibos Nasionale Kunstefees plaasvind - 'n afstand van 1 500 km.

Bekende sanger en liedjieskrywer, Elvis Blue, het Saterdag, 1 Junie, op die avontuur van ‘n leeftyd vertrek.
Hy ry manalleen op sy fiets vanaf George tot in Mbombela, waar die Innibos Nasionale Kunstefees plaasvind – ‘n afstand van 1 500 km, en sal na verwagting op 14 Junie, in Mbombela aankom.

Hoekom? So sê Elvis: “Hoekom op aarde sal ek vanaf George na Mbombela toe fietsry? Ek doen dit om jou aandag te kry! Net vir ‘n oomblik! En noudat ek moontlik jou aandag het, kan ek jou vra dat ons saam iets betekenisvol doen in die lewens van kinders wat jou hulp nodig het.
“Ek weet nie van jou nie, maar ek weier om te leef in ‘n wêreld waar kinders met leë magies skool toe moet gaan en iets probeer leer. Ek weier om net rond te sit met die wete dat daar kinders is wat nie die potlode, penne, boeke of selfs skoene het om mee skool toe te gaan nie. Dat daar slimkoppe, sportmanne en musiekmaestro’s is wat nooit die geleentheid sal hê om bo hulle omstandighede uit te styg nie. Dis wat ek wil hê ons saam moet aanspreek!
“Daar is so baie geraas en behoefte en hopeloosheid rondom ons, soms raak ons afgestomp daarvoor. En my hart raak ook seer wanneer ouers nie vir hulle kinders kan sorg nie, of wanneer ‘n kind se omstandighede net onmoontlik lyk. Al kan ek net vir ‘n paar doen wat ek wens ek vir duisende kon doen, dink ek dis nog steeds die moeite werd!”
LEES OOK: Innibos 2024 beloof om ’n wenresep te wees
Honger affekteer daagliks sowat 9,6 miljoen kinders in Suid-Afrika. Voedselonsekerheid is gekoppel aan ‘n wye reeks onvoordelige nagevolge, insluitende sosiale en gedragsprobleme, en is gekoppel aan gesondheidstoestande soos verdwerging, swak konsentrasie en lae immuniteit.
Suid-Afrika het ook een van die mees ongelyke onderwysstelsels ter wêreld, wat gebuk gaan onder swak of afwesige infrastruktuur, oorvol klaskamers en chroniese onderprestasie, wat die toekoms van ons kinders en dus ons land in gedrang laat. Menige sosiale opnames wys ook dat ‘n tekort aan skryfbehoeftes en uniforms, asook skoolgeld, ‘n uiters nadelige uitwerking op skooldeelname het, en veroorsaak dat ‘n al hoe hoër en hoër koers van kinders tussen sewe en 18 glad nie skool klaarmaak nie.”
LEES OOK: ‘n Fees van toneeldebute by vanjaar se Innibos
Elvis en Innibos, Suid-Afrika se gewildste fees, wil hierdie kwessies met die Elvis Blue ry vir skoolgeld-toer aanspreek.
KYK: Elvis gesels oor sy fietstoer:
@lowvelder Elvis Blue gesels oor sy skoolgeld-fietstoer wat vanoggend, 1 Junie, in George afskop. Hy is oppad na Innibos in Nelspruit. ‘n Rit van 1400km. Video: Michelle Pienaar/George Herald. @Elvis Blue ✅ #Innibos2024
In vennootskap met Atterbury Trust, sal Elvis poog om fondse in te samel – asook ‘n lys ander behoeftes – om hoofsaaklik twee liefdadigheidsorganisasies, een in George en een in Mbombela, te ondersteun. Beide Life Community Services in George en die Daantjie Orphan Project spreek die fisiese en opvoedkundige behoeftes van minderbevoorregte kinders direk aan.
Sakeondernemings en die publiek kan betrokke raak deur finansiële donasies of die skenk van noodsaaklikhede.
Die publiek kan ook ‘n vrywillige skenking maak wanneer jy jou Innibos-kaartjie by Ticketpro koop, en op Elvis Blue se sosiale media. Alle finansiële donasies sal via die Atterbury Trust vir liefdadigheid geoudit en behartig word.
LEES OOK: Die Amptelike Innibos-Feesgids 2024
Navrae: Kona Brown by kona@elvisblue.co.za.
Laevelder sal sy lesers daagliks op hoogte hou van Elvis se vordering. Hou ons Facebook-blad dop.
