Local news

Dieselwerktuigkundige van Witrivier sterk aan ná mesaanval

'n Dieselwerktuigkundige wat op Stemdag in ’n onderonsie by 'n kroeg met 'n mes in die nek gesteek is, sterk tans goed aan.

Dit gaan goed met hom, maar sy nek is nog seer en dik geswel.

Só gesels Freek Wepener (33), ‘n dieselwerktuigkundige van Witrivier, nadat hy Woensdag 29 Mei week aangeval is en met ‘n mes in die nek gesteek is.

Dié voorval waar hy ternouernood die dood vrygespring het, het by Lions Pub gebeur. Die diep meswond het die hoofslagaar in sy nek met millimeters gemis.

Wepener vertel hoe hy en sy broer, Wouter Ferreira, omstreeks 21:40 op Stemdag, Woensdag 29 Mei, by Lions Pub aangekom het om ‘n voertuig af te laai. Daar het glo ‘n onderonsie uitgebreek waartydens hy met wat vir hom soos ‘n jagmes gelyk het, in die nek gesteek is.

LEES OOK: Kroeë verban Mbombela-man met vinnige vuiste

Hy is saam met sy vrou, Renette, van die kroeg af per ambulans na die Kiaat Hospitaal vervoer, waar ‘n noodoperasie op hom uitgevoer is om die wond te heg. Wepener sê van die spiere en senuwees in sy nek is in die aanval beseer. Hy is Saterdag ontslaan en sterk tans by die huis aan.

LEES OOK: Onderonsie in Mbombela-kroeg lei tot klagtes van aanranding

Hy sê hy vermoed die verdagtes, wat volgens hom in uniform geklee was, waarskynlik lede van ‘n sekuriteitsmaatskappy is wat op Peebles buite die dorp gestasioneer is.

Kapt. Magonseni Nkosi, ‘n plaaslike polisiewoordvoerder, het bevestig dat ‘n klag van poging tot moord steeds ondersoek word. Hulle kon glo eers Woensdag ‘n verklaring by Wepener afneem. Hy kon nie bevestig of enige verdagtes al aangekeer is nie.

Back to top button