Local news

George na Mbombela – 1 540 km deur Elvis Blue vir liefdadigheid kafgedraf

Vrydag 14 Junie was 'n dag vol fanfare en opwinding toe Elvis Blue ná 1 540km en 14 dae per fiets, in Mbombela aangekom het.

Hou bene hou, en Daantjie sê dankie!

Deur ysige weer, wind, sneeu het Elvis Blue presies 1 540 km op sy fiets afgelê om op Vrydag 14 Junie met sukses sy epiese ‘Elvis Ry vir skoolgeld-fietsrit’ vanaf George na Innibos te voltooi, en bykans ‘n miljoen rand in te samel.

LEES OOK: George tot Mbombela: Elvis Blue skop sy fietstoer na Innibos af

Deur hierdie hele uitdaging, het Laevelder op sosiale media seker gemaak dat sy lesers daagliks op hoogte gehou word van sy inisiatief.

@lowvelder

Laevelder is by die Suikerbossie Teetuin. En in ware Laeveld-gees sien almal uit om Elvis Blue te verwelkom. #elvis #innibos2024 #laevelder

♬ original sound – Lowveld Media

Op Saterdag 1 Junie het Elvis vanaf George op sy epiese tog vertrek. Op dag 2 het hy tot op Uniondale gery, en op dag 3 het hy van Oppivlak na Graaff-Reinet getrap. Elvis het Dinsdag 4 Junie, tydens dag 4, die roete na Middelburg in baie koue toestande aangedurf.

Op dag 5 het hy tot op Venterstad gery. Op dag 6 het hy 147 km na Smithfield in die Oos-Vrystaat getrap en tot op Hobhouse tydens sy tog op dag 7.

Op dag 8, Saterdag 8 Junie, het hy die speke 124,9 km ver tot op Ficksburg, die Kersiedorp, laat sing. Elvis het op dag 9, Sondag 9 Junie, 94,9 km tot op Bethlehem gery. Hy het op dag 10, 151 km tot op Vrede afgelê en tydens dag 11, het hy die pad oor 103,2 km tot op Morgenzon aangepak.

Luister: Elvis Blue – Skoolgeld

Dag 12, druk hy 138 km deur na eManzana (voorheen Badplaas) toe, want soos hy dit toe gestel het: “Willie kon nie wag om te swem.”

Dag 13 het hy en sy span uitgespan en ontspan met ‘n lekker braai en die lywe in die swembad gelawe.

@lowvelder

♬ original sound – Lowveld Media

En Vrydag 14 Junie het die groot dag aangebreek, en die Laevelders was in rep en roer om hom by i’langa Mall in Mbombela te verwelkom.

@lowvelder

Elvis Blue het so pas 1 500 km se fietsrit voltooi. Hy is by i’langa Mall, en die vreugdevure brand hoog. Welkom in Mbombela, Elvis! #elvisblue #ilanga #innibos2024 #laevelder

♬ original sound – Lowveld Media

Elvis het om ongeveer 12:30 saam met ‘n groot aantal fietsryers, wat hom ondersteun het om die moeilike laaste Hilltop-pas uit te trap, by Suikerbossie Teetuin in Mbombela aangekom.

Hier het ‘n groep ondersteuners, waaronder die Laevelder-span hom met ondersteuningsplakkate ontvang.

“Hi guys, what are you doing here, dit is nou ‘n verrassing, kyk al die mense, ek neem sommer ‘n foto van julle,” het’ Elvis aan sy ondersteuners gesê.

Na asemskep was dit tyd om die laaste paar kilometers aan te pak.

Hy is in ‘n feestelike konvooi met verskeie voertuie, ongeveer 50 fietsryers en motorfietse wat omstreeks 14:00 vanaf Suikerbossie Teetuin na die finale eindbestemming, i’langa Mall, vertrek het, vergesel.

Hier het Radio Laeveld, Laeveld Media en ‘n groot groep ondersteuners Elvis onder luide applous verwelkom.

Die ondersteuners het onder andere in eg koerantstyl plakkate vasgehou met slagspreuke soos ‘Daantjie sê vir jou dankie’, Welkom by Innibos, Elvis Blue’, en ‘Elvis Blue, jou bielie’.”

Om so ver op ‘n fiets deur te druk in soms moeilike weersomstandighede, sit nie in enige man se (fietsry)-broek nie. Andy Lubbe, Innibos se feesbestuurder, het ‘n kort onderhoud met Elvis gevoer oor die hoogte- en laagtepunte van sy rit.

Die koue weer en reën wat hy op die eerste sewe dae van sy rit ervaar het, was beslis ‘n uitdaging. En toe daar na vyf dae net R54 000 in die fondsinsamelingsrekening was, wou hy so ampertjies moedeloos raak.

Maar Elvis het deurgedruk, want hy het hierdie rit nie vir homself onderneem nie: Hy het dit gedoen om fondse in te samel om iets betekenisvols te doen in die lewens van kinders met potensiaal wat hulp nodig het.

“Ek weet nie van jou nie, maar ek weier om te leef in ‘n wêreld waar kinders met leë magies moet skool toe gaan en iets probeer leer. Ek weier om net rond te sit met die wete dat daar kinders is wat nie die potlode, penne, boeke of selfs skoene het om mee skool toe te gaan nie – dat daar slimkoppe, sportmanne en musiekmaestro’s is wat nooit die geleentheid sal hê om bo hulle omstandighede uit te styg nie. Dis wat ek wil hê ons saam moet aanspreek!” het Elvis gesê oor die rede vir sy projek.

In vennootskap met Atterbury Trust en Innibos poog Elvis om fondse in te samel om hoofsaaklik twee liefdadigheidsorganisasies, een in George, en een in Mbombela, te ondersteun. Beide Life Community Services in George en die Daantjie Orphan Project in Mbombela spreek die fisiese en opvoedkundige behoeftes van minderbevoorregte kinders direk aan.

SPAR Lowveld, die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad, Jonsson Workwear en verskeie ander sakeondernemings was by die eindpunt om skenkings en oorhandigings aan Elvis te maak.

Die fonds het tydens ons publikasie van die artikel op ongeveer R850 000 gestaan, geld wat beslis ‘n impak op die lewens van baie kinders gaan hê. Sakeondernemings en die publiek kan steeds betrokke raak deur finansiële donasies vir Elvis se projekte maak.

Skenkings kan gemaak word deur op die QR-kode te druk wat jou na die skenkingsportaal op die Atterbury Trust se webwerf sal neem. Skenkings kan ook direk per EFT aan die fonds gemaak word: Atterbury Trust IT 4555/98 Bank: FNB.

Elvis tree Vrydag 28 Junie op by Innibos tydens die Jacaranda 94.2fm se konsert wat om 18:00 afskop.

LEES OOK: Innibos 2024 beloof om ’n wenresep te wees

Sien julle daar!

KLIK HIER: Die Amptelike Innibos-Feesgids vir 2024

 

Back to top button