Gospelgroep Herleef skiet hul musiekvideo by Innibos
Die Afrikaanse gospelgroep, Herleef, het 'n interessante dinamiek na hul optrede by Innibos gebring deur die musiekvideo vir hul nuwe enkelsnit, 'Die Here het jou lief', op te neem.
Tydens vanjaar se Innibos-fees het die Afrikaanse gospelgroep, Herleef, gekies om die musiekvideo vir hul nuwe enkelsnit, “Die Here het jou lief“, op onder andere die feesterrein op te neem.
Dié groep jongmense, bestaande uit Simonay Harms, Christian Venter, Lené Ludick en die Van der Vlies-broers, Rikus en Franko, vertel dat die keuse om die video juis hier op te neem uit hulle liefde vir die Laeveld en sy mense spruit.
LEES OOK: IN FOTO’S: ‘n Wenresep wat smaak na sukses by Innibos 2024
“Die eerste keer wat ons hier gespeel het was by die jeugkamp, Groundswell. Van toe af het ons op die omgewing, sy mense en die ondersteuning wat die gemeenskap aan ons gebied het, verlief geraak,” vertel Venter.
“Die fees het ‘n groot impak op ons gemaak, en ons het geweet ons moes dit eenvoudig net vasvang! Ons het presies vasgevang wat ons wou: die hele feesgevoel en die vriendelikheid van die mense by Innibos.”
Die groep se nuwe liedjie spreek van die Here se liefde vir Sy kinders en dat Hy elkeen uniek gemaak het, net soos hulle is.
“Die nuwe seisoen [vir Herleef] is baie opwindend! Die Here het die tema van liefde baie swaar op ons harte gelê,” het Rikus gesê.
Hulle het die liedjie tydens Sondagaand se Loof Hom Innibos-geleentheid by Church Unlimited vir die eerste keer voor ‘n gehoor gespeel. Dit is ook waar die laaste paar skote vir die liedjie se opkomende musiekvideo verfilm is.
Herleef beskryf hulself as ‘n familie en ‘n hegte span jongmense met groot drome.
“Ons is ‘n Afrikaanse gospel-band wat werklik net een doel voor oë het, en dit is om die Woord van God tot aan die eindhoeke van Suid-Afrika te versprei,” sê Rikus.
Die groep het in 2020 as vreemdelinge bymekaargekom om die jeugmusiekbediening by die Therapéa Volle Evangelie Kerk in Bloemfontein te lei.
LEES OOK: Laevelder Boma-kuierteater kook behoorlik oor tydens Innibos
Volgens Franko kan hulle groei en verandering tot nou toe as die ‘Herleef-ervaring’ beskryf word.
“Die naam Herleef het spontaan uit die gedagte gekom dat die ouer tipe gospelmusiek nie noodwendig aanklank by jongmense vind nie. Ons wil graag nuwe ‘geur’ aan Afrikaanse gospelmusiek gee sodat die liefde daarvoor ‘n herlewing kan ondergaan,” vertel Harms, wat as een van die groep se hoofsangers optree.
“Herleef skep ‘n spasie vir jongmense om hulself te vereenselwig met woorde en lirieke wat ons elke dag ervaar.”
Herleef se nuwe musiekvideo is deur Kenneth van Zyl van Kaptured Concepts verfilm.
“Hou ons sosialemediaplatforms dop, want saam met die nuwe enkelsnit gaan ons ook die nuwe musiekvideo wat ons by Innibos geskiet het, bekendstel!”
Wie weet? As jy by die fees was, mag jy dalk net ‘n verskyning op dié video maak.
