Mbombela-man finaal klaar met dwelmnes by sy huis
In 'n openhartige onderhoud vertel 'n inwoner dat hy besef het dat hy van sy dwelmhel moet ontsnap.
De Kockstraat 38, ‘n dwelmhool en ‘n steen des aanstoots vir die Sonheuwel-buurt.
Die eienaar van dié huis, Symon Swart, voel dieselfde. Hy lê die blaam voor sy eie deur, maar is vasberade om met die hulp van die sekuriteitsfirma Divergent Ops ‘n nuwe bladsy om te slaan.
In ‘n openhartige onderhoud vertel Swart aan Laevelder dat hy op 40 besef sy lewe kan nie so eindig nie. Hy het vir sy naastes, en veral vir sy ma, baie hartseer veroorsaak. Hy was op sy dag ‘n stewige 140 kg, maar is vandag skaars 70 kg, met ingesonke wange en oë wat diep in die kaste sit.
LEES OOK: State opposes bail in black dollar scam
Swart is ‘n boorling van Mbombela en het in daardie einste huis grootgeword. Na skool het hy by ‘n bekende kettingwinkelgroep gewerk en ook sy hand in die hotelwese gewaag. Hy het nege jaar vir sy laaste werkgewer gewerk toe die winkel verkoop is. “Ek het my eie besigheid, Incredible Difference, begin en ek het tuindienste en onderhoudwerk gedoen. Die onderneming het goed gedoen en het ‘n paar groot kontrakte gehad. Vir byna 14 jaar het ek rustig op die Kaapsehoop-pad gehuur waar ek die eienaars ook met basiese onderhoud
gehelp het.”
In dié tyd het Swart se pad met wat hy ‘verkeerde mense’ noem, gekruis. ‘n Paar van hulle het by hom ingetrek, en “die wiele het afgekom,” sê hy. Hy het met dwelms begin eksperimenteer. “Ek dink dis omdat ek ook ‘in’ wou wees.”
ALSO READ: Hawks arrest two con artists in Sonheuwel for financial crimes
Sy lewe sou nooit weer dieselfde wees nie. Nie net het hy sy besigheid verloor nie, maar sy verhuurders het hom ook uitgeskop omdat hy nie meer die huur kon betaal nie. Sy groepie het saam na die volgende plek getrek, en uiteindelik was die hele kaboedel onder sy ma se dak.
Swart raak deurmekaar as hy tydperke moet onthou, maar in 2018 se koers het hy nog ‘n bakkie gehad. “Van die klomp wat by De Kockstraat begin uithang het, het soms my bakkie geleen. Toe hulle met hekmotors en gasbottels by die huis begin opdaag, het ek besef dit word gesteel. Ek het self ‘n keer of wat gehelp,” vertel ‘n verleë Swart. “Almal wat crystal meth doen, steel. Dis hoe hulle die gewoonte onderhou.”
In 2018 is hy die eerste keer toegesluit en sy ma het die streep getrek. “Ek was k*k bang, en my ma het almal ook uit die huis weggejaag.” Sy het byna R50 000 aan regshulp spandeer, maar hy is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis. “Covid het my gehelp, want ek het net kort van drie jaar later amnestie gekry en kon huis toe.”
Maar dit was nie sonder sy pyn nie. Net voor sy vrylating is sy ma aan natuurlike oorsake dood. “My laaste gesprek met haar was op ‘n video-oproep wat die gevangenis toegelaat het.”
Tydens sy tronkstraf was Swart skoon van dwelms. Hy het in die ontvangs as ‘n skoonmaker gewerk. Ná sy vrylating het hy vir ‘n verdere jaar geen dwelms gebruik nie en het alleen in sy huis gewoon. Sy ou vrinne het weer aan die deur kom klop en vinnig was De Kockstraat 38 weer ‘n gewilde uithangplek vir dwelmgebruikers.
LEES OOK: Oorwinning oor dwelms: Vyf mense in rehabilitasie deel hul verhale van hul paaie na herstel
Dinge het so handuit geruk dat Swart die gemeenskapspolisiëringsforum genader het om hom te help. Hulle het probeer ‘skoonmaak’, maar dit het nooit lank gehou nie.
Daar was oor die jare kinders op die perseel, waarvan twee deur die welsyn weggeneem is weens hul ouers se gebruik. “Dit is nie waar dat enige kinders ooit misbruik is nie. Daar is baie stories, maar dis nie waar nie.”
Daar was wel twee vroue wat hul sake bedryf het, maar Swart sê hy het nooit bekendes oor die drumpel sien stap nie.
Die sekuriteitsmaatskappye het op die adres begin fokus en twee strooptogoperasies uitgevoer. Tydens die onlangste aksie het Swart ‘n rol gespeel om twee buitelanders wat sogenaamde ‘black money’ in miljoene laat verander, vas te trek. “My buitekamer is aan ‘n man verhuur wat ek net as Jimmy of JK leer ken het. Hy het vir my geld gewys waarop daar ‘n swart lagie is wat dan met chemikalieë verwyder word tot die noot helder is. Hy het so ‘n noot aan my gewys en gesê hy kan R1 miljoen tot R5 miljoen vermeerder. Hy het die noot in ‘n kluis in sy kamer gebêre.”
Toe JK die huis verlaat, het Swart die kluis gesteel en dit sonder sukses by ‘n plaaslike onderneming probeer oopmaak. “Ek was nuuskierig, en wie sou R5 miljoen net so in ‘n kluis onder ‘n bed los?” Hy het dit kort daarna aan Divergent Ops gerapporteer.
Swart sê hy weet die gemeenskap dink hy is die kingpin van die onderwêreld, maar hy ontken dit. Met behulp van Divergent Ops is van die plakkers reeds weg, en Swart wil graag almal uit sy lewe hê. “Ek is gatvol en het genoeg gehad. Ek wil aangaan met my lewe. Daar is nie krag of water by die huis nie, ons dra water aan van die begraafplaas. Maar ek gaan die huis regmaak en dan wil ek pad vat en dalk bietjie gaan travel.”
Vir nou gaan hy elke dag werk toe. “Ek probeer kophou en dinge uitsorteer met Divergent se hulp.”
As Swart sy woord hou gaan De Kockstraat binnekort weer terugkeer na sy onskuldige dae.
Divergent Ops se gevreesde Ghost en Yskas hou Swart en sy trawante met ‘n fyn oog dop. “Hy het oop kaarte gespeel met ons en daarom gaan ons hard optree en seker maak daai nes word skoongemaak. As hy mistrap, gaan ons in sy nek af blaas.”