Totsiens en rus sag, geliefde tannie Smé
Geliefde Laevelder Esmé van Zyl se kleurryke lewe word onthou na haar afsterwe.
Fluit-fluit, ons storie is uit…
Só het Esmé van Zyl – beter bekend as tannie Smé – enkele jare gelede in Boek 1 van twee wat sy oor haar en haar oorlede man, Nic, geskryf het gesê.
Verlede Vrydag, 21 Februarie, het die kleurryke lewe en ontsaglike diep spore wat die Van Zyl-egpaar sedert 1952 in die dorp getrap het, tot ’n einde gekom. Smé is Vrydag in die vroeë oggendure in die ouderdom van 96 in haar kamer by die versorgingsoord by Bateleur oorlede.

Volgens haar dogter, Retha Neethling, is Ouma (soos meeste van haar nabye vriende en kennisse haar genoem het), op 19 Oktober 1928 as Susanna Elizabeth Hamman in Lichtenburg gebore. In haar boeke, wat ’n hartsbegeerte van haar en oom Nic (oorlede op 14 Augustus 2010) was om hulle lewensverhale vir die kinders, kleinkinders en agterkleinkinders na te laat, skryf sy oor die moeilike jare van 1933 (die depressiejare) en hoe arm hulle was.

Dat Smé en oom Nic beskore was om hulle lewens saam te slyt, het begin toe sy in 1942 in standerd 7 (gr. 9) by Hoërskool Lichtenburg ingeskryf het.
“Dit is hier waar ek en Nic in dieselfde klas langs mekaar te lande gekom het in die eksamenklas. Glo dit as julle wil, toe het ek al geweet ons sal gebind wees tot nou, 58 jaar later,” skryf sy in die boek, wat in Mei 2010 die lig gesien het.
“Ek het matriek geslaag en na Potchefstroom Normaalkollege gegaan – nadat Nic my omgepraat het – want toe was ons al amper ’n jaar gekys wat op 6 Februarie 1945 was!”

Sy het as onderwyser gekwalifiseer en het onder meer by Laerskool Lichtenburg en Goedehoop Mayfair skoolgehou. Nadat sy en Nic op 28 November 1953 getroud is, het sy by Laerskool Witrivier aangesluit en ’n jaar later ’n pos by Laerskool Nelspruit aanvaar. Dit was in dieselfde tydperk dat Nic ’n medestigter van die bekende Laeveld Trust was.
In 1959 het die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie, waar Smé vir jare intensief betrokke was, besluit om ’n kleuterskool op die dorp te vestig. Op 21 Oktober 1960 sien die Cecilia van Wyk Kleuterskool die lig en is Smé as hoof aangestel, ’n pos wat sy vir drie jaar beklee het.

Oor die jare nadat Nic by die stadsraad betrokke geraak het, onder meer as burgemeester en voorsitter van die bestuurskomitee, het Smé ‘agter, en soms langs’ hom gestaan. “Van hier af gaan ons lewe saam voort, wat Nic ‘doet, doet’ ek saam!” skryf sy.
Smé se gedenkdiens is Dinsdag, 25 Februarie, by Bateleur gehou.
Sy laat drie kinders, Nico van Zyl (Jeanne), Retha Neethling (Pierre RIV) en Annemarie Fourie (Willie), kleinkinders Suzaan van Zyl, Chrisna Wiid (Geo), Réze de Villiers (Dariah), Theane Robinson (Ryno) en agterkleinkinders Amelia en Nina Taljaard, Azel, Zoë en Lexi Robinson, en Brendon Fourie en Nicola Bestbier (Brink) agter.
Réze de Villiers, haar kleindogter skryf:
My liefste ouma,
Wat ’n merkwaardige vrou!
Wanneer ek aan Ouma dink as klein dogtertjie, sien ek die mooiste handgeverfde rokkies, Ouma se mooiste tuin, die lekkerste koeke, koffie met kondensmelk natuurlik en Ouma se Sondagmiddagetes, waar ons wegloop en sê ons eet vir die volgende week niks, maar vanaand eet ons weer.
Al die ongelooflike vakansies saam, plekke waaroor mense droom wat ons die voorreg gehad het om te kon beleef en geniet!
Dit wat ons aan blootgestel was, steeds is en alles wat nog kom is te danke aan Ouma en Oupa.
My kinders het die voorreg gehad om ’n oumagrootjie te kon hê. Een wat hulle so ongelooflik liefgehad het en in alles wat sy vir hulle gedoen het kon mens die detail sien, sy dink aan elkeen op ’n persoonlike vlak. En dit geld vir ons almal. Ouma se tuin was en is vir Dandré soos ’n sprokieswêreld, ’n lucky packet, altyd iets nuuts om te sien, en Ouma was altyd so opgewonde om dit met hom te deel.
Ouma het vir ons die prentjie van wat familie is kom inkleur en vir ons die mooiste beeld van dit kom uitleef, en nou in ons hande sit om verder uit te leef en aan generasies oor te dra.
Ouma se huis was altyd oop vir almal, daar was altyd genoeg kos en daar was altyd tyd vir kuier. Ouma se hart en huis was altyd oop vir almal.
’n Storie wat Ouma so mooi opsom:
Tannie Beat het langs Ouma gebly en sy kon nie sulke lekker kos soos Ouma maak nie, sê sy. Tannie Beat het gereeld mense onthaal en dan maak Ouma die lekker kos, stuur dit na tannie Beat toe en tannie Beat vat elke kompliment oor die lekker kos. Dit is wie Ouma was, Ouma het geen erkenning nodig gehad nie, net ’n hart wat Jesus se liefde vir ander gewys het.
Die laaste vier maande was so moeilik om te sien hoe Ouma wat soos my ma, altyd min stilgesit het en altyd besig was met iets, al hoe minder kon doen. Maar steeds tot die einde het Ouma se sin vir humor nêrens heen verdwyn nie. Al was Ouma hóé swak, het Ouma ons steeds skrik gemaak, veral vir Grace op tye wat ons dit die minste verwag het.
Gaan geniet die hemelse tuin, wandel daar saam met Oupa en Pappa. Ouma het die wedloop hier op aarde voltooi en ons kan net die Here prys vir die mooiste wedloop. Rus sag, Ouma.
Ons het Ouma lief en koester al die herinneringe diep in ons harte.
Chrisna Wiid (kleindogter) skryf:
Ek sal Ouma altyd onthou vir die opregte omgee, Ouma se onbaatsugtige mededeelsaamheid, Ouma se alomteenwoordige nederigheid en die jare lange terugploeg in die gemeenskap sonder om iets terug te verwag. Dit was soos die Bybelse ‘rentmeesterskap’.
Brendon Fourie (agterkleinseun) skryf:
Ek leef my passie daagliks uit danksy my ouma! Ouma en my oupa het my liefde vir sport ondersteun en aangevuur. Ek en my ouma het dae en nagte omgesit en na rugby, krieket, gholf en tennis gekyk. Ouma het my letterlike alles oor sport geleer. En in die laaste 15 jaar het Ouma my ondersteun in my droom om deel van die sokkerwêreld te word. En daarom is ek trots op waar ek vandag is as die hoof van werwing is by Stellenbosch Football Club.
Retha Neethling (dogter) en Jeanne van Zyl (skoondogter) skryf:
Om by Ouma aan huis te kom was nie net bloot ’n kuier nie, maar ’n feestelike geleentheid. Sy het alles altyd met perfeksie en in oordaad gedoen. As daar koek en tee bedien word, was daar ’n hele koektafel vol. As mens by haar gaan eet het, was dit nie net ’n ete nie, maar ’n feesmaal met bakke en bakke vol vleis, groente, slaaie en ander bykosse. En om nie eers van poeding te praat nie. En vir haar was daar niks so lekker as om met haar pragtige blomtuin te spog nie. En haar passie om saam met vriende brug te speel, self toe sy in die versorgingsoord was, sal ons altyd bybly.
Dr. Michiel Eksteen, Nic en Smé se jare lange huisdokter skryf:
Ek het eerste by jou pa tuisbesoeke gedoen, vanweë sy mobiliteitinkorting, seker so in 1976. In 1977 het ek hulle diaken geword en hy my ouderling. Vir baie jare het ek een maal ’n maand in Arendstraat by hul aangedoen om oor ons wyk te rapporteer. Smé het destyds spreekkamer toe gekom en lateraan het ek hulle tuis gesien, eers vir hul beide by Uitsig en toe later in Bateleur. Sy was amper 49 jaar my pasiënt! Ek onthou dit soos gister toe Nic in Arendstraat geval en sy been onder die wasbak vasgevang was. Retha het gebel en ek was met my hande in die grond besig om kappertjies te plant. Ek het met grond onder my naels daar opgedaag. Ek dink baie kere aan die heerlike etes en gul ontvangs wat ons gehad het op ’n Sondagmiddag. Ek sal hulle altyd onthou vir hulle hartlike en warm ontvangs, altyd met ’n oop deur.
