Katoen | Hemel vir haweloses op hulle knieë vir skenkings
Na 'n sosiale medialasterveldtog vra die inwoners en eienaars nederig vir skenkings.
’n Hemel vir haweloses, twee maaltyde per dag en ’n kans op ’n tweede begin.
Dit is Katoen. Net buitekant Witrivier.
Maar ’n onlangse sosiale medialasterveldtog wat blyk totaal onnodig was, het van die donateurs laat onttrek, kosvoorrade is skraps, en die klein hawelose gemeenskap staan nederig en vra vir skenkings.
Wie en wat is Katoen?
Willemien Reynecke het nege jaar gelede dié heenkome vir haweloses op die been gebring.
Reynecke vertel dat haar man in 2015 oorlede is. In April 2016 is sy met servikale kanker gediagnoseer.
Ons sit in haar voorkamer in haar huis op die plot Katoen, terwyl die lied “Put me gently into your arms” oor die radio blêr, iewers op die plot
En ’n mens kan nie anders dink as om te voel dat haar arms die vlerke is om al die haweloses hier nie.
“Ek het in April in 2016 siek geword en toe gaan ek hospitaal toe, toe sê hulle vir my blindederm het ’n probleem hy gaan bars, hulle moet hom uithaal. En na die operasie toe bel hulle en sê ek moet hulle dringend kom sien.”
Sy is meegedeel dat sy servikale kanker het.

Na ’n herbesoek vir chemo drie maande later, het al die toetse gewys dat sy skoon is.
“Al my kanker is weg, ek het gebid daarvoor. Ek het gevoel, die minste wat ek kan doen om te sê dankie, is om Katoen op die been te bring. Dit is ’n voltydse werk, maar dit is die moeite werd op die einde van die dag.”
Maar toe kom sy aan die stuk grond.
“Dit is geërf van my ouma af. Ná my ouma was dit my ouers s’n en toe kom die plot na die kinders toe, my broer en ek. Die ander familie bly hier bo en die onderste gedeelte is waar ons die haweloses akkommodeer. Want dis grond wat ons nie gebruik nie.”
In totaal huisves die plot 60 persone.
Sy bestuur haar eie klein spazawinkeltjie waar sy iets van alles verkoop, van brood en melk tot die tuisgemaakte gehekelde ware wat die inwoners maak.
Dit verkoop sy ook daar teen ’n kommisie vir die inwoners.

“Soos ek sê, dit is harde werk, hier kom maar moeilikes in. Hier kom partykeer mense in van die straat met fisies net dit aan hulle lywe. Ons het geen agtergrond van die persoon nie, ons weet nie waar hulle vandaan kom nie en ons vat maar die kans,” vertel sy.
Die eerste twee weke word hulle ‘uitgekyk’ soos Reynecke dit stel.

“Ons kampkommandant, Riaan Jordaan, is in beheer van die inwoners.”
Dit klink baie millitaristies maar Reynecke lag net en vertel dit is maar net grappenderwys sy bynaam.
“Hy kyk maar dat hulle hulle duties doen. Tussen ses en sewe kry hulle ontbyt. Van sewe tot twaalf moet hulle werkies doen op die kamp. Skoonmaak ensovoorts. Na 12:00 kan hulle doen wat hulle wil. Die kinders kry lunch want ons kos maak nie genoeg voorsiening vir almal nie. Almal kry dan weer aandete.”

Aandete se spyskaart is maar onderhewig aan dit wat beskikbaar is, maar so gebalanseerd as moontlik.

Met Laevelder se besoek was Verina Dennison juis besig om aandete van soetpampoen, pap en vark stew gravy voor te berei.
’n Vyfster-ete moet nie hier verwag word, maar die feit dat jy iets kry om te eet, en ’n dak oor jou kop, is klaar ’n bedekte seën.

“Ontbyt op Maandae, Woensdae en Vrydae is gewoonlik slap pap of Maltabella wat ons op die koolstoof maak en die dae tussenin kry hulle Corn Flakes. Tannie Santie Tyrer skenk dit vir ons, en ander goed ook,” vertel Reynecke.
“Sy is die enigste een wat nog iets skenk, al die ander donateurs het onttrek. De laaste een het onttrek, en ek dink dit gaan alles oor daardie WatsApp-groep wat hulle begin het, Katoen operation take down. Dit is ’n situasie.”
Reynecke sê dat die persoon wat die veldtog begin het, self ’n inwoner op Katoen was.
Sy het al die aantygings aan Laevelder gewys.
Uit die bloute vertel sy dat nog ’n vorige inwoner wat by die veldtog aangesluit het, vir haar ’n stemboodskap gestuur het en om verskoning gevra het.
“Sy het vir my gesê dat sy nooit by die leuens betrokke moes raak nie.”
Laevelder het na die amper vier minute lank na ‘om verskonings’ geluister en is in besit daarvan.
Ek skuld jou ‘n verskoning, ek is regtig jammer, ek vra jou om my te vergewe, ek wou terugslaan en ek was verkeerd, jy was net goed vir my, ek het niks bedoel nie. Dit was verkeerd, die Heilige Gees kla my aan en dit was nie die Christelike ding om te doen nie. Ek is jammer, Willemien, vergewe my asseblief, lui die stemboodskap.
Die skade is klaar gedoen, en die hele Katoen-gemeenskap vra donateurs en skenkings van mieliemeel, pasta, rys, soppoeier, sout en speserye, veral kerrie, aartappels, uie, wortels, soja, suiker en tee
Laevelder het met ’n paar inwoners gesels.

Laevelder stap agter Vikus Terblanche aan, ook nou ’n inwoner hier op Katoen.
In sy sak van sy two-tone kortbroek is sy selfoon en Michael Jackson se “They don’t care about us” blêr daaruit.
All I want to say is that they don’t really care about us
Don’t worry what people say, we know the truth
All I want to say is that they don’t really care about us
Enough is enough of this garbage.
Die bibliotekaresse van Katoen
Ons gesels met Sharon Fourie (48).
Sy sit op ’n stoeltjie by die ingang van Katoen se eie biblioteek en klou ’n ou Vogue-tydskrif styf vas.
Sy woon hier op Katoen saam met haar man, Ockert, dogter Sherece en hulle twee kleinkinders.
Hulle woon nou al byna ’n jaar hier op Katoen.
Sharon lag baie, elke antwoord eindig met ’n lag.

Hulle is oorspronklik van Pretoria, Mountainview en het meer as 20 jaar daar gewoon.
Die lewe het ongelukkig net skewe draaie begin loop. Ockert was glo werksaam by Reco Office Supplies in Centurion.
“Ockert werk tans in Nelspruit, maar die inkomste is nie genoeg nie, dit is al wat ons nou nog terughou maar vir eers is ons hier, en ons is veilig.”
’n Haan neffens die klein bibloteek kraai en haar kleinkind kom soek bietjie aandag.
Sharon klou aan haar Vogue-tydskrif vas.
Die haan kraai weer.

“As my dogter ook werk kan kry, kan ons dalk genoeg hê om ander blyplek te kry,” sê Sharon en sug diep.
“Ag ons het ’n dak oor die kop, my kinders is ten minste na gekyk en daar is etes.”
Is almal viende hier?
“Ja wat, almal is met almal deurmekaar, ons is maar ’n klein community.”
En die biblioteek?
“Jong, hy het baie getravel hier op die plot, maar waar hy nou staan, staan hy. My dogter het eers in hom gewerk, maar die werkrooster het verander en ek kan nie bo werk nie, want ek het asma, so ja, so ek doen maar die boeke-uitleen-ding.”
Sharon was voorheen ’n ontvangsdame.
“Dit was seker so ongeveer sewe tot agt jaar gelede.”
Sy voel dat dit maar ’n sameloop van omstandighede is wat hulle nou hier het.
“Kyk, ons het redelik baie verloor en ons moet maar van vooraf begin, en as ek nou ander werk kan kry, sal ek baie dankbaar wees. Veral kantoorwerk, net waar daar geen stof is nie, as gevolg van my asma.”
Sy het hoop.
“Daar sal ’n uitweg kom, mens kan nie altyd lê nie, mens moet een of ander tyd opstaan. Ons is hier met God se genade en ons is gelukkig.”
Sharon klou nog steeds die Vogue-tydskrif vas.
Lag en poseer vir ’n foto.
Die haan hou nie op kraai nie.
Legkaartstukke try sy bymekaar sit
Laevelder kuier by Chantelle van Zijl (36) by die kleuterskool wat sy gevoel het nodig om die kleuters besig te hou.
Van Zijl is ’n nuwe inwoner, en met haar agtergrond as kleuterskoolonderwyser, het sy die Inside-Out-kleuterskooltjie op die been gebring. Die amptelike opening was Maandag, 10 Maart.
In ’n klein Wendyhuisie, maar goed genoeg ingerig met kryte en inkleurpapier.
Haar eie seun Danté (3) en nog ’n inwoner se seun sit en inkleur. Die twee peuters lyk heel gelukkig met hulle kleurkryte, maar daar is steke aan Danté se gesig – neusie en lip.

Die twee woelwaters bly bedrywig met hulle kryt, en van Zijl maak hulle gou rustig.
Hulle druk die kryt in hulle monde en sy maan gou: “Net honde byt mense, moet nie weer kryt in jou mond druk nie, net honde byt.”

Wat het met klein Danté gebeur?
“’n Hond het hom gebyt nadat hy ’n been uit se mond probeer vat het,” vertel Van Zijl.
Sy is nou so drie weke woonagtig hier en is van Kuruman afkomstig.

Om die klein kleuterskooltjie met net twee leerders te begin, was haar Eureka-oomblik, sê sy.
“Ek noem hom Inside-Out. Ek het by ’n kleuterskool gewerk waar ek my ondervinding opgedoen het.
Maar hoe het sy hier beland?
Sy sug, kyk uit by die deur na buite van die kleuterskooltjie en vertel.
“Dis ’n baie lang storie.”
Volgens Van Zijl is haar man oorlede.
“Hy is aan natuurlike oorsake oorlede. Ek het alles verkoop en Nelspruit toe getrek. Ek kon nie weer werk in Kuruman kry nie.”
Wat is haar boodskap aan die lesers daar buite oor Katoen, is sy gelukkig hier?
“Mmm, ek sal sê as jy rerig nêrens het om heen te gaan nie, sal dié jou uitkoms wees. Ek het gesien hoe mense hier van die straat af kom. Die reëls is baie streng. Geen drank of dwelms word toegelaat nie. Die plek is amper soos ’n rehab.”
“Ek dink ek moet nou maar hier met genade wees, en ek dink die Here sal vir my die regte deure oopmaak.”
’n Traan rol oor haar wang, en sy staar weer uit vanuit die nuutgevonde kleuterskool.
Groot drome.
Haar silwer hangertjie om die nek span styf, ’n choker om haar nek het ’n hartjie om.
Sy vee haar traan af met haar pinkie.
“Dis nie lekker nie,” fluister sy.
“Daar is dalk party aande net pap en kool, maar dit is iets wat ons nie gehad het nie.”
Die love birds van Katoen
Laevelder sit-staan by nog ’n klein Wendyhuisie.
Mooi versorg.
Voor by die deur hang ’n ingebrande hout Bybelboodskap uit Spreuke. The name of the Lord is a strong tower.
Onder dié bordjie hang ’n Lotto-kêps. Hang gemaak rondom die liggie.
Phanda. Pusha. Play – lees die foam-kêppie.
Hy hang skeef, maar die hoop beskaam nie vir ’n miljoen nie.
Ontmoet Maria Basson (54) en Andries du Toit (54). Nuutgevonde liefdespaartjie op Katoen.
Basson woon nou al agt maande hier en Du Toit woon al vir vyf maande hier .
Hoe het hulle hier beland?

Basson vertel dat sy by haar kinders gewoon het.
“My kinders het my basies uitgegooi. Ek kom van Kempton Park af en daar het ek by ’n vriendin gaan bly. Ek was ook in ’n ander shelter gewees. Maar toe sê my vriendin vir my sy kan nie langer vir my sorg nie en toe kom ek hiernatoe. Ek het eers saam met my seun en dogter in ’n huis gebly, maar dinge daar het nie uitgewerk by haar nie.”
Maar die noodlot wou dit anders hê.
“My man is so ’n jaar gelede oorlede. Hy was ’n diesel mechanic en is oorlede aan natuurlike oorsake,” vertel sy.
En Du Toit?
“My vrou het besluit sy wil van my skei, sy was moeg want ek het my rug seergemaak. Ek het sonder werk gesit. Ek kon nie meer die werk doen wat ek kon nie. Ek kom van Nelspruit af en het as ’n panelbeater gewerk.”
“Een Sondag het ek probeer om ’n spyker uit ’n balk te trek, ek het my rug by drie werwels gebreek, toe sit ek sonder werk. Ek het die spyker met ’n hamer probeer uittrek, toe twist my rug,” sê hy.

Du Toit gesels verder dat hy maar die atlas gevolg het oor die kontoere van Suid-Afrika, en nou is hy maar weer hier in Mbombela.
Gekwalifiseerde panelbeater, sê hy.
“Ek is bietjie gebogger.”
Du Toit vertel openhartig dat hy baie gesuffer het tot nou en sy eksvrou het net eendag vir hom gesê, dit is nou genoeg.
“Die inkomste was glo te min. My kinders wil ook niks met my te doen hê nie.”
En hoe voel hulle oor Katoen?
“Ons het geen probleem nie. Die kos is redelik. Groente, rys en mens kry alles wat jy nodig het. Willemien het ’n baie goeie hart. Sy sorteer ’n probleem baie vinnig uit.”
Du Toit is tans ’n sekuriteitsnagwag by ’n maatskappy hier in die Laeveld.
“Die inkomste is net van so ’n aard dat ons dit nie kan volhou nie.”
“Maar hier kyk hulle mooi na ons. Ons kyk natuurlik uit na ander werk maar alles kom met tyd. Enige werk sal ons kan doen. Soos housekeeping, dit kan ek doen. Ek het ook voorheen by ’n hondesalon gewerk,” vertel Basson.
Katoen lê hulle na aan die hart.
“Hierdie plek is bedoel vir mense wat hulp nodig het. Dit is leefbaar. Tot slaptjips, jy mag uitgaan. Ek gee my bydrae want ek moet want ek verdien iets. Hier moet almal hulle deel bybring. Hulle gee ’n dak oor ons koppe. Die vrygewigheid wat ons hier kry, is soveel meer. Moet nie net dink hier gaan jy net kry nie. Jy moet ook ook iets teruggee om te kan ontvang,” sê Du Toit.
Op Du Toit se selfoon, wat met ’n klein solarbatterytjie gecharge is, speel Andriëtte se “Afrikaans het nie brieke nie”.
Daar waar ons gaan, sal dit bly
Jy sal altyd ons môre kry
Dis binne ons, dis waar dit brand
Dis in ons harte, ons harte van die platteland
Hoe het hulle ontmoet?
Du Toit sê dat hulle eendag begin gesels het en net geclick het. “
“Ons het een aand gesels na ons dutywerk klaar was, ek het nog altyd my oog op haar gehad.”
Van Welkom en Sabie – so gesels Bernadette Steyn en Johan de Klerk
“Ek is oorspronklik van Sabie en hy van Welkom, maar ons is saam weg by Soli Deo Gloria in Lydenburg in 2023. Ons het geen ander heenkome gehad nie en ons was afhanklk van Johan se inkomste van Sassa,” sê Steyn.
Sy is eerlik en erken dat sy foute gemaak het en verslaaf was aan crystal meth nadat sy verkeerde besluite geneem het, maar sy is volgens haar nou heeltemal skoon.
“Ek het my in ’n ding gedruk wat ek nie moes nie. Verkeerde besluite. Ek is nou hier, ek kry nie werk in my lyn wat ek kan doen nie. Ek ken van payroll. Maar van Katoen kan ek sê, die mense wat Katoen sleg maak, praat nie reg nie. Doen jou duties hier vir ’n bord kos en ’n dak oor jou kop. Ons moet net duties doen van 07:00 tot 12:00. Ek smag net weer om van 07:00 tot 17:00 te werk,” sê Johan en Bernadette uit een mond.

“As ek my CV vir jou moet wys, sal jy op jou rug val. Maar dit is die beeld wat ander mense uitgedra het oor ons dat ons nou nie werk kan kry nie. Niks is waar wat hulle gesê het nie. Ek is skoon, silwerskoon,” sê Steyn.
“Don’t judge a book by its story,” (sic) vertel sy.
Vir nou is hulle gelukkig.

Terwyl Bernadette en Johan openhartig gesels en die Laeveld-son al feller brand, en die mak Brahmaan, genaamd en gedoop deur die Katoen-inwoners, ‘Biltong’, sy verskyning maak en wei, blêr daar ook uit dié twee love birds se skuiling – vir nou – Bob Marley se lied, “Don’t worry about a thing”.

Don’t worry about a thing, worry about a thing, oh!
Every little thing gonna be all right. Don’t worry!”
Don’t worry about a thing” – I won’t worry!
Cause every little thing gonna be all right.




















