Johan Hattingh roep NHS ná 40 jaar vaarwel toe
Johan Hattingh het vir sewe van sy 40 jaar by NHS as dié skool se hoof gedien.
Die legendariese en geliefde hoof van Hoërskool Nelspruit (NHS), Johan Hattingh, het onlangs amptelik sy loopbaan met sy aftrede beëindig.
Hattingh is oorspronklik van Lichtenburg in die Noordwes en het aan die Universiteit van Pretoria studeer. Dit was hier waar hy en sy toekomstige vrou, Desiré, se verhouding met die Laeveld onverwags begin het.
“Twee van ons baie goeie vriende was van die Onderberg af, en hulle was voormalige leerders van Hoërskool Nelspruit,” het Hattingh aan Laevelder vertel.
Desiré was self ‘n onderwyser, en dit was nadat hulle graad gevang het, dat dié paartjie besluit het dat hulle Laeveld toe gaan verhuis. Dit was ook in daardie tyd dat die Hattinghs by NHS betrokke geraak het. Johan is as ‘n wiskundeonderwyser vir die gr. 8’s en 10’s aangestel.
LEES OOK: Johan Hattingh vier 40 jaar by NHS voor aftrede
“Dit was ‘n ongelooflike geleentheid, en ons het nog nooit teruggekyk nie, die Laeveld is só, só spesiaal.”
Kort voor lank het hy vir die matrieks wiskunde gegee en nie lank daarna nie het hy die departementshoof van wiskunde geword. Hy het op ‘n stadium as die adjunkhoof van die skool opgetree. Hattingh was ook vir 13 jaar die meisieskoshuis se koshuisvader.
Hattingh was ‘n goeie tennisafrigter en hy het ook die eerste krieketspan afgerig. “Ek het baie goeie herhinneringe langs die tennisbaan en krieketveld, en ons het in ons tyd saam baie bereik.”

In 2017 het hy as hoof waargeneem en in 2018 is hy amptelik in dié pos aangestel. “Dit was ‘n wonderlike voorreg,” het Hattingh gesê. “Ek is baie bevoorreg dat die hoofde voor my baie moeite gedoen het om te sorg dat ek saam met wonderlike personeel kon werk.”
Sy tyd as personeellid en hoof van NHS het op 28 Maart, met ‘n baie spesiale seremonie ten einde geloop. Die personeel en die leerders het skouer teen skouer gestaan om ‘n erewag vanaf sy kantoor tot by die skool se koshuis te vorm. Hy het ook die geleentheid gekry om ‘n slot aan die skool se Vinculum vas te maak, soos elke jaar se matrieks hul slotte aan kettings vasmaak.
Hattingh het die vaarwel as bittersoet beskryf. “Dankbaarheid was die oorweldigende emosie, en sodra ek begin nostalgies raak, het ek emosioneel begin raak. Maar dit was emosie van opwinding en dankbaarheid vir my tyd by NHS.”

Maar wat was Johan Hattingh se gunstellingaspekte van NHS? “Die gemeenskap se betrokkenheid by die skool is uiters spesiaal. Daar is ‘n baie goeie sinergie tussen die skool en die gemeenskap. En die kinders natuurlik. Die Nellie-kinders drop jou nie, hulle staan jou altyd by.”
Sy wens vir NHS in sy aftrede? “NHS moet hulle huidige rol in die openbare onderwysomgewing behou. Ek wens dat hulle daai rol sal bly speel. Ons is ‘n baie geseënde skool en ons moet aanhou om geleenthede met die wyer gemeenskap te deel, en aanhou om diegene wat minder bevoorreg is, te help.”
Johan en Desiré gaan Jeffreysbaai toe verhuis, waar Johan se familie ook bly. Hulle het wel nog nie vaste planne vir hulle aftrede nie.
“Ons sal seker vir ons kinders oorsee gaan kuier, maar verder sal ons nog sien.”
