Local news

Baba se gesondheidskrisis nou ‘n oorlewingstryd in Rob Ferreira

'n Gesin van Mbombela se vyf maande oue baba is tans in 'n kritieke toestand in die Rob Ferreira Hospitaal opgeneem.

‘n Vyf maande oue baba met erge aangebore hartkwale veg tans vir sy lewe in die Rob Ferreira Hospitaal omdat hy nie spesialisbehandeling hier kan ontvang nie.

Liam van Straten kan nie deeglike behandeling kry nie omdat daar nie ‘n staatskardioloog in diens van die Departement van Gesondheid in Mpumalanga is nie.

“Al wat nou vir ons oorbly is genade, glo en bid,” sê Liza Labuschagne, klein Liam se ouma.

LEES OOK: Verwaarlosing moontlik die oorsaak van Rob Ferreira-pasiënt se dood

‘n Dag na sy geboorte het die dokters van Rob Ferreira ontdek dat die seuntjie met ‘n gaatjie in sy hart gebore is. Omdat daar nie ‘n staatskardioloog in die provinsie beskikbaar is nie, is hy inderhaas na die Steve Biko Hospitaal in Pretoria oorgeplaas vir dringende ondersoeke en behandeling.

Tydens die ondersoek is vasgestel dat Liam nie net vier verskillende hartdefekte het nie, maar dat een van sy hartkleppe ook nie behoorlik ontwikkel het nie.

Van die kwale wat gediagnoseer is, sluit onder meer in ‘n erge infundibulêre pulmonale defek, ‘n afwesige longklep en ‘n hartletsel.

Volgens Labuschagne het die kardioloog by Steve Biko Hospitaal (SBAH) gesê dat Liam eers as hy ouer as ‘n jaar is, ‘n operasie kan ondergaan om van die kwale te herstel.

Hy is ontslaan en is by die huis deur sy ma, Judy Wolmarans (21) en sy pa, Petrus van Straten, versorg.

Drie weke gelede het sy toestand skielik agteruitgegaan en is hy weer in Rob Ferreira opgeneem.

“Hulle het vasgestel dat hy die mense- rhinovirusinfeksie opgedoen het. Sy koors het buite beheer geraak en hy is in die intensiewesorgeenheid opgeneem.

LEES OOK: Mbombela’s Rob Ferreira hospital lets patients down again

“Daar is vasgestel dat hy septisemie opgedoen het,” sê Labuschagne.

Volgens haar is die groot krisis wat Liam se behandeling kortwiek, die feit dat daar nie ‘n staatskardioloog in die provinsie beskikbaar is nie. Die hospitaal het ook net een pediater.

“Hy is in hierdie stadium te kritiek siek en die dokter kan hom nie in dié onstabiele toestand oorplaas Pretoria toe nie.”

Liam van Straaten.

Sedert Maandag, 28 April, het sy toestand nog meer versleg en is hy tans op ‘n ventilator en kry 100% suurstof. Die vermoede is dat hy nou ook breinvliesontsteking opgedoen het.

“Die dokter, ‘n intern, doen haar bes onder die omstandighede.”

Wat Liam se behandeling verder benadeel, is dat die hospitaal nie oor noodsaaklike masjiene soos ‘n elektroencefalografie (EEG) masjien wat breingolwe meet, beskik nie en dat die MRI-masjien buite werking is.

“Liam se temperatuur het gevaarlik laag gedaal en daar is net een Bair Hugger, ‘n spesiale tipe warm kombers vir babas in die hospitaal, beskikbaar.
“Wolmarans, Liam se ma, was emosioneel en nie in staat om met Laevelder te gesels nie.

Dumisani Malamule, die hoof van die Departement van Gesondheid se kommunikasieafdeling, het in antwoord op ’n reeks vrae wat aan hulle gestuur is, ontken dat enige van die noodsaaklike masjiene en instrumentasie in die hospitaal buite werking is.

Op ’n vraag of Rob Ferreira al oorweeg het om die hulp van ’n privaat kardioloog in te roep om met Liam se behandeling te help, sê Malamule:

“Nee, Rob Ferreira het nog nooit ‘n privaat kardioloog oorweeg om hom te behandel nie, want hy is onder behandeling van kardiologie by Steve Biko Akademiese Hospitaal en tans is sy siekte nie kardiologie [nie], maar [’n] pediatriese toestand, en kardiologie het besluit dat hy by Rob Ferreira Hospitaal behandel moet word, aangesien daar bekwame spesialiste vir sy toestand is.”

Hy het egter in gebreke gebly om die belangrikstes vraag, oor hoeveel staatskardioloë in Mpumalanga is, te beantwoord.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button