Ludi die Laeveld-luggolflegende se sein gedoof
Ludi Botha se afsterwe gaan ’n groot leemte in die Laeveld laat.
Die Laeveld het Dinsdag met skok en ongeloof verneem dat Ludi Botha (45), ’n oudomroeper van Radio Laeveld 100.5FM skielik oorlede is.
Luidens Gerhard Nel, die stasiebestuurder, was Botha ’n legende van die Laeveld-luggolwe.

“Dit is met groot hartseer dat Radio Laeveld 100.5FM afskeid neem van een van ons mees geliefde stemme en oudkollegas, Ludi Botha, wat vanoggend na ’n siekbed oorlede is,” sê Nel.

Botha was vir byna 13 jaar ’n sentrale figuur by Radio Laeveld. Hoewel hy die stasie in 2023 verlaat het, het sy invloed en nalatenskap steeds sterk in die kultuur en gees van die stasie deurgeskemer.
“Hy was nie net ’n omroeper nie, maar ook ’n mentor, tegniese steunpilaar, en bo alles ’n vriend. Sy unieke sin vir humor, sy vurige werksetiek en sy liefde vir die gemeenskap het hom diep in die harte van sy kollegas en luisteraars geplant.”
LEES OOK: Laevelder Roelf van Jaarsveld op 80 nog lus vir die lewe
Botha het onder andere die ontbytprogram en die middagspitsprogram aangebied, en het die fondasie vir die gewilde Top20 op Saterdae gelê.
Sy teenwoordigheid was tasbaar, of dit nou in die ateljee was, agter die skerms met tegniese ondersteuning, of in die gemeenskap waar hy sonder enige verwagtinge gehelp het waar hy kon: van waterkrisisse in Witrivier tot die behoeftes van die DBV in Mbombela, het Botha nooit gewag vir iemand anders om iets te doen nie, hy was daardie iemand.

“Hy het altyd met ’n vonkel in die oog en ’n tergende grap opgedaag. Sy stem was al vir ’n geruime tyd nie meer hoorbaar op ons klankgolwe nie, maar sy nalatenskap weerklink steeds in elke kollega se herinneringe.”
Daar word vertel dat Botha stelsels help bou het wat die werk van omroepers makliker gemaak het, en hy het iets besonders na elke program toe gebring. Sy betrokkenheid, lojaliteit en warmte het hom onmisbaar gemaak.
Namens die raad van Radio Laeveld wil hulle ook hulde aan Botha bring.

“Hy was ’n mens met ’n groot hart, lief vir die Laeveld-gemeenskap, en altyd bereid om op te staan vir dié wat hulp nodig gehad het. Sy toegewydheid aan veiligheidsprogramme, sy passie vir dierewelsyn en sy onbaatsugtige diens aan die gemeenskap was van monumentale waarde. Sy nalatenskap sal lank in die harte van almal by die stasie resoneer. Ons sê nie totsiens nie, net dankie. Dankie vir wie jy was, vir wat jy gegee het, en vir die diep spore wat jy agterlaat. Ons gedagtes en innige simpatie is met sy familie, vriende en almal wat sy pad gekruis het. Rus sag.”
Vanessa Roets, die radiostasie se skakelbeampte, het 13 jaar saam met Botha gewerk. “Jou stem is stil, Ludi. Lank het ons saamgewerk. Jy was altyd daar om te help en jy was baie lojaal. Die reël van onderhoude met die kunstenaars het ons ook aangepak en dit was goed. Iets waarop jy baie trots was, was die Top20. Klokslag Saterdae moes daar gestem word,” het Roets in haar huldeblyk geskryf.
LEES OOK: Welbekende Laeveldse skrywer en historikus Hans Bornman oorlede
Botha se sin vir humor het hulle baie aan die lag gehad en Roets bedank hom vir al sy harde werk en insette. “Rus in vrede,” het sy beaam.

Amanda Botha, ook ’n geliefde omroeper by die stasie sê: “Vir ons in die Laeveld en vir almal wat die voorreg gehad het om saam met hom te werk en hom te ken, sal Ludi altyd onthou word. Nie net vir wat hy gedoen het nie, maar vir wie hy was: ’n ware mens, met ’n groot sagte hart en ’n standvastige gees. Ludi was nie net ’n kollega nie, hy was jou regterhand, ’n staatmaker, iemand wat altyd gereed gestaan het om te help.
“Jy sal altyd deel van ons bly. Jou ‘welkom’-matjie lê voor jou nuwe woonplek. Rus sag, Ludi. Groete, Amanda.”
Roelf van Jaarsveld onthou vir Botha soos volg: “Dit is met groot hartseer dat ek oudkollega, Ludi Botha, moet groet. Jou entoesiasme en onblusbare humor sal my altyd bybly. Jy het baie gedoen vir jou ouers en daarvoor eer ek jou nagedagtenis. Volgens my was jou aandeel by Radio Laeveld grootliks dat jy in alles 100% betrokke was. Jy het die binnewerke van die stasie op jou vingerpunte geken en as dit moes, sou jy die stasie alleen op die lug gehou het! Rus sag, liewe kollega. Jy is die vyfde werker by Radio Laeveld wat ons in sy bykans 22 jaar vooruitgegaan het. My innige simpatie aan die Botha-familie.”
Die Botha-gesin het aan Laevelder gesê dat die familie nog baie rou en seer is na die tyding oor Botha se afsterwe.
Hy laat sy ouers, twee susters, hulle gades en hulle kinders agter.

Die begrafnisreëlings is nog nie getref nie.
Net soos ’n draadloos, is Botha se mikrofoon nou afgeskakel. En gepas, net soos die program wat hy destyds aangebied het, Verkas, het Botha ook nou ‘vertrek’.
Sy lewensantenna is teruggedruk en die volumeknoppie is afgedraai, maar Botha se skaterlag, vlymskerp humor en mensliewendheid se seine sal nog vir lank op die ‘ons onthou’-geheuegolwe vir almal wat hom geken het wees.
‘Verkas’ en rus in vrede.












