Local news

Oom Jan, Laeveld bou-legende sterf op 74

Oom Jan Grobler was 'n respekteerde besigheidsman en bouer in die Laeveld.

Die gemeenskap is in rou gedompel ná die nuus van Jan Grobler se afsterwe gister. Hy is op die ouderdom van 74 na ‘n stryd teen kanker oorlede. Hy was in die Laeveld as oom Jan bekend, ‘n toegewyde familieman met ‘n kenmerkende glimlag. Hy het graag wyshede gedeel en ’n drankie saam met vriende by die kroeg geniet.

Oom Jan was ‘n gedugte besigheidsman. Hy was die eienaar van Grobler Groep Beleggings asook Grobler Bouers, ‘n familiebesigheid wat sy pa in 1957 begin het. Hy was ook ‘n pa van drie kinders en oupa van ses kleinkinders.
Hy is in Nelspruit gebore en het hier groot geword, en was ook ‘n oud-leerling van Hoërskool Nelspruit.

LEES OOK: Ludi die Laeveld-luggolflegende se sein gedoof

In sy jonger dae het hy help bou aan dié dorp se infrastruktuur en was betrokke by die konstruksie van bekende geboue soos die Promenade-sentrum en hotel, Crossing Sentrum, Laerskool Laeveld, die NG Kerk Westergloed, Canary Walk Mall, die Departement van Binnelandse Sake, en verskeie kantoorblokke in Mbombela. Oom Jan was deel van die bou van Laerskool Clivia, die NG Kerk Witrivier, die Komati Square SPAR-sentrum, Shoprite en die SPAR in Elukwatini, Twin City in Bosbokrand, en Buco Malelane.

Hy was ook betrokke by die bou van Sabie River Bungalows, Sabi Sabi Earth Lodge, River Lodge, Lion Sands, Town Lodge Nelspruit en Kwa Madwala Wildreservaat, waarvan hy ook die eienaar was.

Oom Jan het in ‘n vorige onderhoud met Laevelder gedeel hoekom hy so passievol was oor die boubedryf.

“Elke gebou wat ons voltooi het, is ‘n monument wat hopelik die toets van die tyd sal deurstaan. Wanneer ek na ons geboue kyk, sien ek met trots die vrug van ons arbeid.”

Hy was baie lief vir rugby en was ‘n trotse lid van Nelspruit Rugbyklub waar hy ook deel van die bestuurspan was.

LEES OOK: VOORSKOU: Bouers trots op 60 jaar se handewerk in die streek

Sy familie het ‘n huldeblyk met Laevelder gedeel:

“Ons som ons amazing en liefdevolle pa en oupa op in woorde uit die honderde boodskappe wat ons van oral af gekry het. ’n Gerespekteerde besigheidsman, legende, ikoon, hoë boom, yster, leermeester, rots en reus met die sagte stem wat op sy gelukkigste was op sy rooi duin in die Kalahari saam met sy familie of vriende. Pa, jy los ‘n ongelooflike leemte in ons lewens en in ons harte. Ons gaan sukkel om jou skoene vol te staan en ons dra jou legacy met trots voort. Tot ons weer saam bou en beplan in die hemel.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button