Geliefde oud-Laeveld-onnie sterf op 93
Japie Kritzinger se gedenkdiens word Maandag, 23 Junie, om 11:00 in NG Kerk Witrivier gehou.
Japie Kritzinger, ‘n oudonderwyser van die Laeveld, is op 11 Junie in die Cintocare Hospitaal in Menlyn, Pretoria, oorlede.
Kritzinger is op 10 September 1931 op Witrivier gebore en het die grootste gedeelte van sy lewe daar deurgebring.
Hy het op Belfast gematrikuleer en het sy BSc-graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en daarna sy Hoër Onderwysdiploma (HOD) aan die Universiteit van Pretoria.
Lees ook: Oom Jan, Laeveld bou-legende sterf op 74
Hy het sy loopbaan as wetenskaponderwyser in Pretoria begin en het daarna by hoërskole Rob Ferreira, Springs, Waterval Boven, Barberton en Nelspruit skoolgehou.
Hy het weer by Hoërskool Rob Ferreira begin en was daar tot en met sy aftrede in 1991. Daar is duisende wetenskapleerders deur sy hande, wat hom gereeld op die dorp en selfs in die buiteland herken het.
Kritzinger was ‘n man van vele passies: hy het vir baie jare ‘n skoolbusdiens op ‘n deeltydse basis bedryf, hy was vir jare lank ‘n skool- en ‘n troufotograaf.
Lees ook: Voormalige Malalane-onderwyser sterf weens malaria
Na sy aftrede was hy ‘n eiendomsagent.
Hy het vir 50 jaar in verskeie kore gesing, insluitend die Stellenbosch Universiteitskoor, die mannekoor en kerkkore.
Hy het deeltyds met bye, groente en avokado’s geboer en het net voor sy afsterwe ‘n rekord oes met behulp van sy plaasbestuurder geproduseer, waarvan ‘n groot gedeelte na die buiteland uitgevoer is.
Hy was vir 68 jaar gelukkig met Tienkie getroud en hulle het die laaste sewe jaar in Rubicon Aftreeoord in Mbombela gewoon.
Lees ook: Wêreld-onderwysersdag: Oud-Nellie Wessel Pretorius dra ‘n lofgedig op
Kritzinger word deur sy vrou, twee seuns, twee skoondogters, sewe kleinkinders en drie agterkleinkinders oorleef.
Hy laat ‘n baie groot leemte in sy familie, die gemeenskap en kerk.
Die familie het ook ‘n huldeblyk gedeel:
“Ons eer sy nagedagtenis, ongeëwenaarde werksetiek en liefde vir sy medemens en sy Skepper.”
Sy gedenkdiens word Maandag, 23 Junie, om 11:00 in NG Kerk Witrivier gehou.
