Toe die stof gaan lê, was net Innibos-lekkerness oor
Innibos het in sy 21ste bestaansjaar net weer eens bewys dat dié kultuurfees sy plek volstaan.
Die stof het gaan lê, die tente en verhoë is opgepak en die feesbestuur haal weer asem.
Die Toyota Innibos Nasionale Kunstefees 2025 is met groot geesdrif afgesluit, en daar bestaan geen twyfel nie – vanjaar se fees het oorgeloop van lekkerness.
LEES OOK: Innibos was lekker soos ‘n krêkker
Met ‘n indrukwekkende bywoningsyfer van sowat 78 800 feesgangers, het Innibos sy plek as een van Suid-Afrika se voorste kuns- en kultuurfeeste met oorgawe bevestig.
@lowvelder Innibos het vanjaar met twee produksies by die Hoërskool Nelspruit Ouditorium afgeskop. Maak jou feesgees gereed en woon een, of nóg beter, altwee by – jy sal nie spyt wees nie. “Dit is ‘n stunning moet-sien produksie,” luidens een van die gehoorlede van Ouma is op pad. Laat die fees in al sy lekkerness begin! Onthou jou Muskiet, wat op die feesterein beskikbaar sal wees, om jou op hoogte te hou van al vanjaar se lekkerness. @Innibos #muskiet #laevelder #innibos2025 #toyota
Mense het van heinde en ver gekom om deel van die feesvieringe te wees – van Gauteng tot die suide van die land, en selfs van buite ons landsgrense af.
Die fees het letterlik uit sy nate gebars.
Die terrein het met 300 stalletjies vol unieke produkte, handwerk, kos en kreatiewe inspirasie gespog.
Daar was agt toneelproduksies waarvan talle vol sale gelok het, 10 musiek- en leefstylproduksies wat gehore laat skater en sing het, en sewe boekgesprekke, uitsluitend die immergewilde boeke-crawl na Kaapshehoop, wat boekentoesiaste in vervoering gehad het.
@lowvelder ‘Vlerksleep’ was lekkerlagteater uit die boonste rakke. Die gehoor het dit gate uit geniet. Die vertoning is môre om 13:00 weer op die planke in die Hoërskool Nelspruit Ouditorium. Moet dit nie misloop nie! #lefra #innibos2025
Topkunstenaars vermaak
Meer as 35 van Suid-Afrika se topkunstenaars het op die hoofverhoog opgetree, asook Laerskool Nelspruit se junior- en seniorkoor, terwyl vier ander kuierverhoë regoor die terrein deurlopend aksie, atmosfeer en musiek aangebied het.
Daar was altesaam meer as 200 kunstenaars wat hier opgetree het.
@lowvelder Ouma was op pad en nou is sy hier by die Toyota Innibos Kunstefees. Die vertoning ‘Ouma is op pad’ is voor ‘n amper stampvol Hoërskool Nelspruit Ouditorium op die planke gebring en Ouma het nie teleurgestel nie. Moet nie jou kans om die vertoning môre om 09:00 by te woon, misloop nie. Kom lag saam, maar onthou jou snesies! #oumaisoppad #Laevelder #muskiet #artsfestival #mbombela #ouma #oumaisopad #muskiet #magrit
Volgens Innibos se feesbestuurder, Andy Lubbe, is die bestuur baie tevrede met vanjaar se bywoningsyfer.
LEES OOK: Innibos 2025
Innibos toon groei
“Ons het groei vanaf verlede jaar getoon. Dit is moontlik weens die feit dat besigheidsvertroue toegeneem het en mense weer bereid is om geld op kuns en kultuur te spandeer. Veral Gautengers het agtergekom dat die fees dieselfde momentum behou as voor Covid en dat dit met dieselfde standaard aangebied word.”
Hy voeg by: “Ons sien reeds ‘n groei in besoekers van Gauteng af, en dit bevestig dat die fees nie net sy gees nie, maar ook sy aantrekkingskrag behou het.” Innibos bly ‘n belangrike ekonomiese inspuiting vir die gemeenskap.
LEES OOK: Van kuns tot Kurt Darren – Innibos spog met ’n propvol feesprogram
Volgens voorlopige data dra die fees tussen R80 en R100 miljoen tot die plaaslike ekonomie by, ‘n syfer wat bevestig sal word deur ‘n onafhanklike studie wat tans deur die Universiteit van die Noordwes uitgevoer word.
Die uitslae van dié studie sal later vanjaar bekend gemaak word.
“Die feesbestuur wil Toyota, ons gewaardeerde hoofborg, van harte bedank vir hulle lojale ondersteuning, sowel as elke ander borg en vennoot wat Innibos 2025 moontlik gemaak het. ‘n Spesiale woord van dank gaan ook aan elke feesganger wat saam met ons kom feesvier het. Julle teenwoordigheid, ondersteuning en entoesiasme maak hierdie fees jaar na jaar ‘n belewenis,” sê Lubbe.
Innibos is en bly ‘n fees vir die gemeenskap – ‘n viering van kultuur, kreatiwiteit en samehorigheid.
Vir die span agter die skerms is dit ‘n groot voorreg en eer om elke jaar dié spesiale geleentheid moontlik te maak.
Baie dankie aan elke sakeonderneming, kunstenaar, vrywilliger, stalletjiehouer en elke persoon wat gewerk het aan en by die fees – elkeen het ‘n waardevolle bydrae gelewer tot ‘n totaal onvergeetlike feeservaring.
Dit was voorwaar ‘n lekker fees vir lekker mense, met meer as genoeg lekkerness om elke hoek en draai!





