Angie se toestand stabiel maar steeds kritiek ná motorongeluk
Angelica ‘Angie’ Ferreira steeds in ’n koma na ernstige motorongeluk.
Dit is nou ‘n maand sedert die 26-jarige fiksheidsinstrukteur, Angelica ‘Angie’ Ferreira in ‘n koma is nadat sy ernstige hoofbesering tydens ‘n motorongeluk opgedoen het.
Ferreira was op 6 Julie, kort na middernag, van Innibos af op pad om ‘n vriendin op die KaMagugu-pad te gaan aflaai. Op pad terug na haar woonstel, het sy vermoedelik agter die stuurwiel van haar Hyundai aan die slaap geraak en van die pad af gery.
Ferreira het ernstige hoof- en breinbeserings opgedoen en is eers 10 ure ná die ongeluk opgespoor waar sy op haar maag in die gras gelê het, beseer en bewusteloos.
LEES OOK: Mbombela-instrukteur eers 10 uur ná ongeluk opgespoor
Ferreira se ma, Antoinette Massyn, sê haar dogter is Maandag vir intensiewe assessering, evaluasie en rehabilitasie van Rob Ferreira Hospitaal na M-Care oorgeplaas.
“Sedert sy daar opgeneem is, het sy baie rustig voorgekom. Sy het by tye haar oë oopgemaak, maar het geen reaksie getoon nie,” het Massyn gesê.
Ferreira se motor het verskeie keer gerol voordat dit enkele meter van die pad af in die veld op die wiele tot stilstand gekom het.
Die operasionele bestuurder van ‘n sekuriteitsmaatskappy het oomblikke na die ongeluk op die toneel aangekom. Frikkie Mattheus van Mvikeli Protection Services het kort ná die ongeluk daar stilgehou en gaan kyk of iemand beseer is, maar daar was niemand binne-in nie.
Sy soektog rondom die motor is egter belemmer toe sy selfoon en sy flits pap geraak het.
Hy het deur ‘n noodkanaal van sy maatskappy ‘n boodskap gestuur dat die polisie en ambulans ontbied moes word. ‘n Uur later was daar nog niemand op die toneel nie. Toe ‘n insleepvoertuig daar opdaag, het hy spoedig weer vertrek.
Skynbaar het die polisie wel later opgedaag, maar blykbaar slegs die opdrag gegee dat die wrak verwyder moes word. In die donker het hulle glo nie gesien dat Ferreira sowat ses meter van die wrak af in die veld lê nie.
Die Sondag omstreeks 11:30, het Xolani Mthembu by die toneel stilgehou toe hy ‘n wiel in die gras sien lê het.
Dit is toe dat hy op die kritiek beseerde Ferreira afgekom het. Hy het aan Laevelder gesê hy vermoed sy het ná die ongeluk uit die wrak van die motor gekruip en langs ‘n boom inmekaargesak.
Sy is aanvanklik in Rob Ferreira Hospitaal se intensiewesorgeenheid behandel, maar is later na die neurologiese eenheid oorgeplaas.
LEES OOK: Woman survives 10 hours in veld after Mbombela car crash
Omdat Ferreira nie ‘n mediese fonds het nie, is ‘n skarebefondsingsveldtog vir haar begin sodat sy na M-Care oorgeplaas kon word.
Die drie maande rehabilitasie wat sy hier ondergaan, gaan sowat R300 000 kos. Teen die naweek is sowat R136 000 reeds ingesamel.
Ferreira se toestand is steeds kritiek, maar stabiel. Sy haal self asem, maar word steeds deur ‘n trageotomie-buis gevoed.
Geen besoekers word tans by Ferreira toegelaat nie totdat ‘n volledige evaluasie gedoen is om vas te stel hoe ernstig haar hoofbesering is.
Mense wat die gesin wil ondersteun, kan dié BackaBuddy skakel volg: Backabuddy.co.za/campaign/funds-for-angie
