Local news

Mbombela Biblioteek ’n ‘stiefkind’ vol historiese juwele

Mbombela se biblioteek is vol versteekte skatte.

“Hoe meer jy lees, hoe meer kennis het jy. Hoe meer jy leer, hoe meer plekke besoek jy.” So lui die bekende aanhaling van Dr. Seuss.

So lees Laevelder Maandag dat die Johannesburgse stadsbiblioteek Saterdag amptelik ná vyf jaar se strukturele opknappingswerk heropen is – en besluit toe om Mbombela se biblioteek te gaan besoek – net om die stand van boeksake onder oë te kry.

Die biblioteek in Dr. Samora Machel-laan, voorheen Krugerstraat, is in 1968 geopen en ingewy, en is dus vanjaar 57 jaar oud.

En daar kom ons op ‘n skatkis van onskatbare waarde af.

LEES OOK: Oud-elektrisiën van Mbombela skenk boks geskiedenis

Die parkeerterrein van die boekparadys is onooglik. Die tuin is verwaarloos, maar met die broodnodige instandhouding sal meer mense welkom voel.

Binne-in die biblioteek word jy aangenaam deur vriendelike personeel verras. Die plek is skoon en netjies en die reuk van boekekennis hang stil en spreekwoordelik in die lug.

Vriendelike hulp: Pinky Dlamini, Hilariah Mogakane, Sifiso Mnisi, Ingiphile Khoza, iThando Sithole en Imgiphile Matikwane.

Die leesbanke is erg gehawend en daar is so ver ‘n mens jou oog oor die boeke kan gooi, nie enige nuwe vrystellings op die rakke nie.

Skatkis van onskatbare waarde

Maar dit was by nadere ondersoek dat Laevelder op seker een van die grootste skatkiste in die stad afgekom het.

LEES OOK: Nee, dit is níé die einde van koerante nie, al val die inkdrom soms om

In drie uitstalkabinette is daar artefakte wat enige historiese liefhebber van sy trollie van opgewondenheid sal laat gaan. ‘n Handsketsskildery van Nelspruit met ‘n koerantuitknipsel van 1904, ou Dinky Toys, ‘n handgemaakte ossewa, ‘n dagboek wat uit 1909 dateer en ‘n stadsraadsbesoekersboek wat met die handtekeninge van die koningsgesin van Engeland pryk – al vier: Koning George, die Koninginmoeder en die twee prinsesse, Elizabeth en Margaret.

‘n Juweel saam met ‘n kopie van ‘n brief wat Nelspruit bedank vir die meubels wat aan die gesin geskenk is en wat per skip na Engeland vervoer sou word.

Dit is egter betreurenswaardig dat hierdie kabinette verwaarloos is en sonder enige verduideliking waaroor die artefakte handel.

‘Klomp ou goed’

Octavia Sibeko, die biblioteekbestuurder, het gesê dat volgens haar, dit maar net ‘n “klomp ou goed” is wat hulle daar uitstal.

Sy het ook genoem dat daar blykbaar nie in die begroting enige fondse vir nuwe boeke beskikbaar is nie. “Maar ons het gratis internet en hier kom heelwat studente en jong leerlinge vir naslaanwerk asook pensioenarisse om boeke uit te neem,” sê Sibeko.

“Die gebou is onlangs opgeknap, dit is geverf, daar is nuwe plaveisel en teëls deur die stadsraad ingesit. Die biblioteek is maar soos ‘n stiefkind vir hulle. Biblioteke is die verantwoordelikheid van die provinsiale regering, nie dié van die munisipaliteit nie. En ons kort dringend nuwe banke. Ons dak lek ook, as dit gaan reën, gaan ons boeke skade ly en ons kort nuwe lugversorgers.”

Laevelder het die provinsiale begroting vir die 2025/26 finansiële boekjaar vir die Departement van Sport, Kultuur en Ontspanning onder oë gehad, en volgens dié dokument is ongeveer R91 miljoen vir infrastruktuurprojekte en instandhouding ter tafel gelê waarvan R35 miljoen aan biblioteke toegeken is.

‘Dit is geld wat dié departement nie het nie’

Nadat navrae aan Sibongile Nkosi, die woordvoerder van die bogenoemde departement gerig is, het sy soos volg gereageer:

“Die departement het publieke werke vir die beplannings- en ontwerpproses ten opsigte van die opgradering van die stadsbiblioteek aangestel. Die koste vir die opgradering het destyds ongeveer R60 miljoen beloop. Dit is geld wat dié departement nie het nie. Hulle is egter op soek na borgskappe en skenkers om mee saam te werk.”

Rakende die meubels het Nkosi gesê die departement in samewerking met die munisipaliteit, sal kyk na die moontlikheid om die probleme so gou as moontlik aan te spreek.

Dra jy meer kennis van die geskiedkundige materiaal wat in die biblioteek uitgestal word? Het jy enige voorstel waarheen dit moontlik vir uitstalling en veilige bewaring geneem kan word?

Stuur ’n e-pos met voorstelle aan bertus@lowvelder.co.za.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button