Local news

Oud-elektrisiën van Mbombela skenk boks geskiedenis

'n Boks vol ou koerante en baie stories word hier met Laevelder gedeel.

’n Boks vol gedrukte memorabilia, heel waarskynlik Afrikana, het onlangs in die hande van Laevelder se Bertus de Bruyn beland.

De Bruyn het gaan kers opsteek by Stephan Schumyn (63), pensioenaris en stoere Laeveld-inwoner van oor die 30 jaar, en daar het stories en staaltjies saam met die boks gekom.

’n Boks vol skatte word weggegee

Donderdagaand, 21 November, sit ek rustig en hou myself op sosiale media besig. My slimfoon biep daardie daar-is-’n-boodskap-biep, en ek vrees dis ’n nuusflits waaraan aandag gegee moet word.

Allesbehalwe. ’n Ene Stefaans het ’n boks vol ou Suid-Afrikaanse koerante, gedateer vanaf 1916. “As daar dalk iemand is wat oudhede versamel, en indien iemand belangstel in ou koerante, kan hulle my skakel. Dankie, Stefaans.”

Ek huiwer nie. Ek versamel al jare belangrike koerante met spesiale voorblaaie, gedenkuitgawes en so meer. In die digitale era wat soos ’n tsoenami oor die gedrukte media spoel, moet ek eenvoudig net my hande en oë op die skatkiswoorde lê.

’n Boks vol geskiedenis

Schumyn sit rustig by sy woning in West Acress op ’n kampstoel – so sonder hemp. Die Laeveld-somerson brand warm en die belofte van ’n laatmiddagstorm broei in die rigting van Barberton.

Waar kom hy aan die koerante?

“My ouma Polla is in 1977 oorlede en op een of ander manier het die goed by my ma, Bets, beland, en so met die jare, jy weet, ou mense maak mos maar skoon, en eendag toe kom ek op die goed af, en toe sê my ma vir my, ‘Man, gooi dit weg of maak daarmee wat jy wil!’” vertel hy terwyl hy lekker lag. Hy sug en sê: “Ja, dis hoe dit hier by my beland het. Dis jare en jare terug. Kyk, toe my ouma oorlede is, was sy in Machadodorp woonagtig, en die snaaksste ding is, ons weet nie waar ouma die koerante gekry het nie, ons het nie ’n idee nie.”

Maar waarom wil hy nou juis van die koerante ontslae raak?

“Man, dit is nie in my pad nie. Ek het ’n klein kamertjie hier agter, ek noem hom my pakkamertjie, en daar pak ek nou sommer allerhande jy-weet-wat weg. Die kakkerlakke het nou al die koerante aan die kante begin wegvreet. Ek was eendag by ’n winkel hier in Nelspruit, want ek het gedink ek gaan dit raam. Toe ek daar uitstap, toe dog ek by myself, maar ek wil mos nie aandele koop nie!”

LEES OOK: Nee, dit is níé die einde van koerante nie, al val die inkdrom soms om

Schumyn vertel dat ’n mens weer die koerante tot museumgehalte kan laat behandel. “Hulle bevogtig seker weer op ’n manier die papier. Ek gaan dit nou haal, maar soos ek sê, die goed begin al uitmekaar uit val.”

Hy staan op, en Laevelder wag geduldig vir die boks om te voorskyn te kom.

Koerante van weleer

Die tipiese gebruikte bruin trekboks met die bekende maskeerband word staangemaak op die kampeertafeltjie op Schumyn se stoep. Op die boks is ’n woord waarvan letters makeer – dit lyk soos ‘blik’ met ’n ‘s’ verder af. Moontlik was daar jare gelede blikke hierin vervoer, maar nou pryk dit met geel en brose ou koerante van weleer uit ons land se geskiedenis.

Deur hoeveel hande is die koerante? Waarom sou sy ouma soveel waarde hieraan geheg het? Het ouma Polla dit oor en oor gelees?

Een van die oudtse koerante is die Volkstem, gedateer 30 Junie 1916 – ’n volle 108 jaar oud – in hoogs Nederlands, maar ’n juweel – veral as jy ‘Apologie’ raaklees van ’n ene Jan en Maria Frederik Rijkers Viljoen aan ’n karakter op Kraaifontein: “Gezeegen het en talle dergelijke talen door ons gebrukt, leugenachtig zijn, en beloven ook nooit weer van hen zo iets te zegen.”

’n Mens wil skater, want een ding bly seker: oor die jare het koerante en gemeenskapskoerante maar net nie verander nie. Wat die storie agter die apologie nou eintlik was, sou mens graag wou weet.

Ander hoofopskrifte in die skatkis is ook een op die voorblad van die Volkstem, gedateer 9 Augustus 1946, met ’n voorbladartikel oor die afsterwe van genl. Louis Botha.

In Ons Blad van 1952 is daar ’n artikel oor die dood van Engeland se koning. Beeld 1967 berig oor die eerste hartoorplanting van dr. Chris Barnard, sowel as ’n artikel oor die meisie wie se hart oorgeplant is.

Daar pronk ook talle ou Huisgenote – die voorblad van die uitgawe van 22 September, 1950, is egter erg gekarnuffel, maar dit bly van historiese waarde.

Schumyn vertel dat hy op ’n stadium gedink het om die koerante vir die biblioteek hier in Mbombela te skenk. “Maar dit sal nie waardeer word nie, het ek gevoel. Eendag gaan hulle skoonmaak en dit dalk ook weggooi, want ’n koerant is mos ’n koerant,” vertel hy.

Die nuus dat gedrukte media in die slag bly en hoofstroomse, daaglikse en Sondag-koerante vanaf 2025 digitaal gaan stroom, is op almal se lippe.

Maar Schumyn voel erg oor sy Laevelder, sy gemeenskapskoerant, soos hy dit stel. “Man, ek kan vir jou sê as ek Rapport 30 jaar gelede gekoop het, lieg ek nie, en Beeld nog langer as dit. Maar kyk, ek hou van my Laevelder. My koerantjie.” Hy klap so op die voorblad wat langs hom lê, en as ’n mens so kyk, lyk hy goed deurgelees.

“Ek stel nie belang in nuus wat in die Kaap gebeur nie. Ek wil weet wat aangaan in my omgewing. Die Laevelder het ek toevallig Donderdag gratis gekry toe hulle hier verbystap en een aflewer. Nee, kyk, ek lees my Laevelder, en as ek hom nie kry nie, is ek omgekrap. Ek hou ook van my nuus op televisie. Maar kyk, as ek nou my koerant vat, dan haal ek eers al die advertensies uit. Dan sal ek nou hier en daar ’n ding lees en dan sit ek hom neer. Maar môre, dan vat ek hom, dan begin ek hom deurlees, en ek begin hom mooi deurblaai, dan werk ek hom deur en lees wat my interesseer. Ek stel nie veel belang in selfone nie – so nou en dan op Facebook – maar ek soek my nuus in my koerant,” vertel Schumyn.

 

Schumyn – ’n einaardige van

Op die vraag oor die seldsame van, vertel hy dat daar darem nou al ’n paar mense in die land met die van is. “Jare gelede was daar net so sewe. Ja, dis ’n Duitse van. Ek het eendag vir my pa gevra waar kom die van vandaan, en hy het my vertel dat die man van oorsee gevlug het Suid-Afrika toe, want hy het glo drooggemaak daar, en toe die kalant in die Kaap kom, toe verander hy sy van en latere jare het die spelling glo weer verander, maar soos wat hy nou staan is hoe ons hom skryf.”

Gebore en getoë Laevelder

Schumyn is in Barberton gebore en het op Hectorspruit grootgeword. Hy matrikuleer aan die Hoerskool Nelspruit. In 1977 begin hy sy ambag as elektrisiën by TSB op Malelane, en in 1982 sluit hy in Ermelo by Eskom as distrubisieamptenaar aan.

“Ons het op al die plaaslyne gewerk. In latere jare was ek bevorder as senior distriksamptenaar op Malelane, en in Nelspruit was ek een van die eerstes wat op die lifeline begin werk het – dit is nou waar ons aan lewendige kragdrade gewerk het. En so deur die jare was ek betrokke by die konstruksies van substasies, maar in 2021 is ek finaal daar weg.”

Hy en sy vrou woon al 30 jaar in Mbombela.

Schumyn se vaardigheid as elektronikus kan gesien word, want hy spog graag met sy twee lampies wat hy patenteer het en wat tydens beurtkrag of as hy gaan kamp handig te pas kom – natuurlik om sy koerant te kan lees.

En so saam met die lampies hou hy homself ook besig om stoele uit ou karbande te maak. Net net ’n man wat ken van krag nie, maar sy kennis kan toepas in sy stokperdjies.

Stephan Schumyn se bandestoele en lanterns.

Hoe onstpan hy as hy nie sy geliefde Laevelder lees nie?

“Ek is baie lief vir visvang en kamp, en as ek my tentjie iewers kan opslaan, is ek op my gelukkigste, selfs in die wildtuin. Met ’n lekker stukkie braaivleis, pap en sheba. Maar moenie vir my komkommers gee nie, want dit is varkkos,” skerts hy.

Dis is Stephan Schumyn, afgetrede elektrisiën, ’n skaam man wat weier om vir ’n foto te staan. Maar gelukkig genoeg om die boks aan my te oorhandig. Koerante is koerante. Party was vensters daarmee, ander draai vis en skyfies daarin toe, desperates het al selfs skoolboeke daarmee oorgetrek, en vir boemelaars hou dit hulle warm in die winter.

Koerante, soos Tim du Plessis onlangs tydens die Boekenaweek op Kaapsehoop gesê het: “Newspapers are the first draft of history.”

En hier sit ek nou met die boks. Dit sal veilig by my ander versamelstukke kom, soos die voorblad van Madiba se afsterwe, prinses Diana se ongeluk. Berigte oor Pavarotti en Montseratte Cabelle. En talle ander wat vir my heilig is.

Al bly hulle in ’n boks, bly die reuk, die voel om deel te kon wees van ’n era wat stadig aan plek maak vir digitaal vir my ’n juweel van onskatbare waarde.

Dankie, Stephan – geniet jou kamp, en onthou, wanneer jy jou Laevelder-koerant klaar verslind het, koerantpapier maak ’n braairooster mooi skoon.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button