Local news

Nee, dit is níé die einde van koerante nie, al val die inkdrom soms om

Ondanks die aankondiging deur Media24 dat dit die einde van 'n era vir gedrukte vlagskippublikasies is, is een ding vir seker, gemeenskapskoerante is nié dood nie.

“Koerante is dood, lank lewe koerante.”

Sedert die doodsklok saggies gebeier het om die einde van Media24 se vlagskip-koerante aan te kondig, was dít een van die vele eiertjies wat gelê is oor die dramatiese nuus van Moneyweb.co.za se Jeremy Maggs.

Maggs se berig het die vere behoorlik laat waai en professor Johannes Froneman van die Faceboek-groep, Mediamense, het die jakkals nog verder die hoenderhok in gejaag.

Die algemene kommentaar was “dit is die einde van papierkoerante”.

Wag, wag… Die einde van gedrukte media nadat die inkdrom omgekeer word vir nét vier koerante?

Die kar word darem lelik voor die perde gespan, terwyl daar honderde koerante – já, honderde koerante – is wat kragtig ‘n verskil in Suid-Afrika maak. Nee, dit is níé die einde van koerante nie.

LEES OOK: DONDERDAG: Wanneer ‘n joernalis ‘n fout maak

Het die afgelope maand 231 koerante in die Avbob Forum vir Gemeenskaps-joernaliste se kompetisie vir uitnemende joernalistiek deurgelees. Daar was 77 inskrywings met drie koerante per inskrywing. Het andermaal verstom gestaan oor die vitaliteit van hierdie koerante.

Hulle is nie dood nie, hulle is nie met die een voet in die graf nie, hulle vervul week na week ‘n onontbeerlike rol in gemeenskappe. In elke familie is daar een of ander tyd ‘n afsterwe. Staalfabrieke sluit, kerke gaan ten gronde, skole loop dood…

So gaan dit altyd wees, ook in die mediabedryf. Gemeenskapskoerante se einde is met die koms van televisie in 1976 voorspel toe ‘mediakenners’ gesê het ‘dorpskoerante’ gaan nie oorleef nie.

Toe die sosialemediagolf Suid-Afrika tref, is dieselfde voorspel en nou speel gemeenskapskoerante heerlik saam op sosiale mediaplatforms.

Die Covid-19-pandemie het wel slagoffers geëis, maar vyf jaar later en honderde dorpe regoor Suid-Afrika het weer hulle lieflinginligtingsbron terug.

‘n Vennootskap tussen gemeenskap en koerant, gedrukte koerant, wat in talle gevalle meer as 100 jaar kom. Hoëvelder is sedert 1903 deel van sy gemeenskap, so óók Middelburg Observer. Die eerste Paarl Post is op 14 Januarie 1905 gepubliseer en Laevelder bedien die streek al vir 138 jaar.

Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit, sê die prys wat Afrikaans gaan betaal wanneer Rapport en Beeld se gedrukte weergawes gestaak word, sal baie duurder as enige besparing wees.

LEES OOK: VIDEO: Elvis Blue met ope arms ontvang ná speke vir 1 500 km sing

Dit is duidelik dat die fokus op Afrikaans is – nie die inligtingsbron nie.

Gemeenskapskoerante worstel al vir jare om hul Engelse en Afrikaanse gemeenskappe gelukkig te hou, maar doen die balanseertoertjie sodat hulle steeds deur hulle gemeenskap aanvaar word. By hierdie koerante gaan dit oor gemeenskappe as ‘n geheel, nie net een taalgroep nie. Dit is een dorp, een koerant.

Die vader van die gemeenskapspers en eerste redakteur van Middelburg Observer, Oscar Henry Frewin, het gesê daar is niks beter as om naby aan die inkdrom te wees nie. Hy was reg. Nie net vir joernaliste nie, maar ook vir die mense van ‘n dorp, stad of voorstad.

Miskien moet sakemagnaat Warren Buffett se woorde weer nadergetrek word: “If you want to know what’s going on in your town – whether the news is about the mayor, taxes or high school football – there is no substitute for a local newspaper that is doing its job. A reader’s eyes may glaze over after they take in a couple of paragraphs about national or international news, but a story about the reader himself or his neighbours, will be read to the end”.

Vandag kan dieselfde van digitale platforms gesê word; niks kan die weeklikse ekstase van ‘n ‘dorpskoerant’ vervang nie.

Daardie een waar jy die beriggie uitsny en bêre, gewoonlik in ‘n Bybel. Waar die families stry wie hom eerste lees.

Wat jy kan gebruik om vuur te maak, in die papegaai se hok te los, selfs die koue uit Wendyhuisies verdryf soos die Koppiestraatprojek. Waar jy in die advertensies kan gaan soek watter supermark die goedkoopste koffie verkoop.

Nee, die koerant is nie dood nie. Hy lewe!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button