Laeveld kunstenaars waag en wen by Afri-Indie
Die gospelalbum bestaan uit gedigte wat deur prof. Hans du Plessis en prof. Bernard Odendaal geskryf is.
Die bekende Laeveld-dirigent, Lizanne Barnard, en haar seun, Adam Helberg, het met die beste gospelalbumtoekenning by vanjaar se Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings weggestap.
Die toekenningsaand is op 5 Augustus by die Atterbury-teater in Pretoria gehou. Die twee kunstenaars het hulle album, Dwarshout, ‘n gospelalbum wat hulle musiek met gedigte wat deur prof. Hans du Plessis en prof. Bernard Odendaal geskryf is, kombineer. Die gedigte kom uit die album, Kruis van Liefde.
LEES OOK: Gospelgroep Herleef skiet hul musiekvideo by Innibos
“Dis baie lekker om erkenning vir jou werk te kry,” het Barnard gesê. Sy het saam met haar seun die musiek opgeneem en gesing, ‘n samesmelting van rock, alternatief, kuns en klassieke musiek. Hierdie musiek was ook die klankbaan vir die Crux-teatermusiekblyspel wat in 2022 by Church Unlimited opgevoer is.
LEES OOK: IN FOTO’S: ‘n Wenresep wat smaak na sukses by Innibos 2024
Barnard is al talle kere vir Ghoema-nominasies benoem en het al verskeie toekennings vir haar komposisies ingepalm. Helberg maak ook sy eie musiek en staan bekend as Both Eyes Open. Hy het ook die kategorie vir die beste alternatiewe album met Virtual Love gewen. Hierdie musiek is ‘n kombinasie van rock, techno en klassieke musiek.
“Deur die album verken ek die verskeie vorme van liefde: die band met ‘n broer, die liefde vir ‘n ouer, ‘n beste vriend, en die passie vir musiek. Die album sluit ook ‘n verkenning van liefde vir verkeerde dinge in, soos materialistiese dinge,” het Helberg gesê.
Sy musiek beoog om mense te genees deur oor onderwerpe te sing wat nie alledaags is nie.
LEES OOK: Mbombelan filmmaker bags five awards
Hy is ook ‘n semifinalis in die Taalgenoot-Ruk en Rym-kompetisie met sy liedjie “Diefding”. Die liedjie gaan oor mense wat geestesgesondheidstoestande het soos OCD en eetversteurings.
“Ek is baie trots op Adam en om saam met hom musiek te maak, is baie spesiaal,” het Barnard vertel.
Albei gee musieklesse en hoop om nog baie mense met hulle terapeutiese lirieke aan te raak.
Barnard tree op 4 September by die Boulevard-teater op saam met drie ander kunstenaars met hulle vertoning, Meisie.
