Groot finansiële terugslag vir Angie Ferreira
Angie Ferreira maak vordering ná ’n ernstige ongeluk, maar haar familie moet steeds geld insamel vir rehabilitasie.
Angie Ferreira (26) het vir etlike weke, waarvan sy vir sowat ses in’n koma was, met elke greintjie krag en deusettingsvermoë waaroor sy besit, geveg ná ’n kritieke ongeluk waarin sy in die middernagtelike ure van 6 Julie betrokke was.
Ten tye van die ongeluk was sy op die Kamagugu-pad oppad huis toe nadat sy ’n vriedin wat saam met haar by Innibos gekuier het, by dié se huis afgelaai het.
Op ’n draai naby Mbombela, het sy vermoedelik beheer oor die motor verloor en het dit verskeie keer gerol.
LEES OOK: 7 weke ná motorongeluk: Angie Ferreira groet haar ma weer
Ten tye dat die polisie die insleepdiens opdrag gegee het om die wrak weg te sleep, kon die bestuurder van die motor nog nie opgespoor word nie.
Ferreira is eers die volgende dag, meer as 10 ure ná die ongeluk, deur ’n verbyganger in die veld enkele meters van waar haar kar se wrak was, opgespoor.
Sy is in Rob Fereirra Hospitaal opgeneem, waar vasgestel is dat sy ernstige breinbeserings opgedoen het.
Haar enigste hoop op moontlike herstel was intensiewe rehabilitasie. M-Care Nelspruit is die enigste fasiliteit wat dit vir haar kon bied. Omdat die behandeling peperduur is, is ‘n BackaBuddy-skarefinansieringsveldtog begin.
Ferreira het teen alle verwagting baie goed op die behandeling gereageer.
LEES OOK: Angie se toestand stabiel maar steeds kritiek ná motorongeluk
Slegte nuus is die week ontvang dat haar befondsing opgedroog het en dat sy binnekort ontslaan sal moet word.
Antoinette Massyn, Ferreira se ma, sê hulle is besig om reëlings te tref om haar na haar ouerhuis te verskuif. Daar is egter aansienlike uitgawes wat aangegaan moet word om die huis so gemaklik moontik vir haar in te rig.
Die familie is nou genoop om ’n voltydse versorger aan te stel.
Intussen word daar steeds deur die BackaBuddy-insameling gepoog om genoeg geld in te vorder om die uitstaande hospitaal rekening te vereffen en om die nodige rehabilitasie toerusting aan te skaf.
Bydraes kan steeds gemaak word, klik HIER.
