7 weke ná motorongeluk: Angie Ferreira groet haar ma weer
Angie Ferreira reageer na 7 weke in 'n koma as gevolg van 'n ernstige motorongeluk op die KaMagugu-pad.
“Ek het op my knieë neergeslaan en die Here geprys.”
Dít was Maandag, 15 September, die reaksie van Antoinette Massyn, ma van die 20-jarige Angie Ferreira, wat die afgelope sewe weke in ‘n koma was nadat sy in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was.
“Ek het haar soos gewoonlik die oggend in M-Care besoek, waar sy tans intensiewe rehabilitasie ondergaan,” vertel Massyn Dinsdagaand, 16 September, aan Laevelder.
“Jy kon my met ‘n veer omslaan toe sy my met ‘n ‘môre Mamma’ teruggroet.”
LEES OOK: Woman survives 10 hours in veld after Mbombela car crash
Volgens Massyn het Ferreira reeds sedert die naweek tekens van verbetering begin toon toe sy haar oë oopgemaak en ligte reaksies gegee het.
Een van die groot uitdagings waarmee sy moes worstel, was onbeheerde spierspasmas. Hiervoor het haar neuroloog botox-inspuitings toegedien.
“Sy kon selfs in ‘n stadium in haar rolstoel sit en het op vrae van haar terapeute reageer,” sê Massyn.
“Op die vraag of sy jogurt wil hê, het sy ‘n kortaf ‘nee’ gegee. Maar toe hulle haar vra of hulle haar arms kon oefen, het sy weer ‘ja’ gesê.”
Volgens Massyn het Angie ook saam met die terapeute begin tel tydens oefensessies.
“Sy het egter nie by die einde van die tel opgehou nie, maar net aangehou. Angie was haar lewe lank ‘n fiksheidsinstrukteur, en ons vermoed dit is juis hierdie tellery wat sy in haar geheue herleef.”
LEES OOK: Mbombela-instrukteur eers 10 uur ná ongeluk opgespoor
Ferreira was in die middernagtelike ure van 6 Julie in ‘n ernstige motorongeluk op die KaMagugu-pad betrokke, toe sy vermoedelik agter die stuur aan die slaap geraak en van die pad afgery het. Haar motor het verskeie kere gerol.
Sy is eers sowat 10 uur later, ongeveer agt meter van waar die wrak gestaan het, erg beseer agter twee bome gevind.
LEES OOK: Angie se toestand stabiel maar steeds kritiek ná motorongeluk
Na aanvanklike behandeling in Rob Ferreira Hospitaal is sy later na M-Care oorgeplaas vir gespesialiseerde rehabilitasie.
Die koste vir haar drie maande rehabilitasie beloop nagenoeg R300 000.
