‘Oom Brian’ in hospitaal opgeneem ná angswekkende bye-aanval
Oom Brian het die dood vir ’n tweede keer in sewe maande vrygespring nadat hy deur ’n massiewe swerm bye getakel is.
‘n Plaaslike boer, ‘oom’ Brian Whitehorn (84), veg wéér vir sy lewe in die intensiewe sorgeenheid by Kiaat Privaat Hospitaal in Mbombela nadat hy Woensdag, 17 Desember, deur duisende bye op sy plaas gesteek is in ‘n angswekkende voorval.
Oom Brian en sy vrou, Gerda, was na bewering op hulle plaas in Paardeplaats, ongeveer 10 km uit op die Longtompas, toe hulle skielik deur ‘n massiewe swerm bye aangeval is.
Die egpaar en twee van hulle plaaswerkers was in die groentetuin doenig toe die aanval sonder enige waarskuwing plaasgevind het.

In ‘n desperate poging om van die bye te ontsnap, het Gerda daarin geslaag om ‘n wasbak te bereik, waar sy haar kop onder lopende water gedompel het.
Sy vertel vanuit haar hospitaalbed dat die bye die hele wasbak volgelê het. Haar vinnige denke het daartoe gelei dat sy van die bye kon ontwyk.
Die twee werkers is ook bygedam deur die swerm, maar het genadiglik oorpakke aangehad wat ván die steke kon afweer.
“Brian was egter nie so gelukkig nie. Hy het skuiling onder ‘n klip gesoek, maar die bye het hul meedoënlose aanval voortgesit. Vasgevang, en nie in staat om hulle af te weer nie, het hy ‘n enorme aantal steke regoor sy lyf opgedoen. Hy is van sy enkels tot op sy kop gesteek deur duisende bye,” vertel Gerda vanuit haar hospitaalbed.

Die Whitehorns se bure het dadelik die nooddienste ontbied. Intussen het plaaslike inwoners opgedaag om die Whitehorns by te staan tydens die aanval.
Die bye is verjaag deur inwoners met byeboer-oorpakke en Peaceful Sleep (’n muskietafweerder wat onskadelik is vir mens en dier) te spuit tussen die swerm. Die pogings was suksesvol – die bye het die wyk geneem en oom Brian is vanuit sy klipskuiling gered.
Netcare 911-nooddienste het die egpaar dadelik na Lydenburg Hospitaal vervoer waar daar gepoog is om hulle per helikopter na Kiaat te vervoer.
“Die mis het egter die vlug belemmer. Hulle was bekommerd oor Brian se toestand en was bang dat hy nie die rit Mbombela toe sou oorleef nie. Die oomblik toe sy toestand gestabiliseer is, is ons dadelik per ambulans vervoer,” vertel Gerda.

Brian is onmiddelik in die waakeenheid opgeneem, waar hy in ‘n ernstige toestand bly. Gerda, wat ook verskeie kere gesteek is, word vir waarneming in die hospitaal gehou. Beide bly onder waaksame mediese toesig, en veral oom Brian word gemonitor vir enige verandering in sy mediese toestand.
Volgens Gerda is daar nog honderde angels in beide van hulle wat nog nie verwyder kon word nie.
Mediese kenners waarsku dat veelvuldige bysteke ernstige gevare inhou, selfs vir individue wat nie allergies is nie. Terwyl ‘n enkele steek pyn, swelling en ongemak kan veroorsaak, kan honderde of duisende steke tot anafilaktiese skok, wat orgaanversaking, spier- en nierskade en, in ernstige gevalle, tot die dood kan lei.
’n Plaaslike byekenner het verduidelik dat die baie reën ’n massiewe invloed het op bye se reaksies en dat inwoners versoek word om versigtig te wees, korwe te vermy en onmiddellik mediese hulp te soek in die geval van veelvuldige steke.
Volgens Gerda is dit net genade van bo wat weer eens oom Brian beskerm het.
*Oom Brian het in Mei dié jaar ook op Avbob se stoep gespeel toe hy tydens ’n roetine rit met sy trekker van ’n wal afgestort het. Hy was vir meer as twee ure onder die wrak van die Landini trekker, wat ongeveer 1 600 kg weeg, vasgepen. Hy was toe opgeneem in Mbombela se Mediclinic waar hy wonderbaarlik net ’n gebreekte sleutelbeen en kneusplekke opgedoen het.
LEES OOK: “Oom Brian” bevry na twee ure onder trekker se wrak
