Hard newsLocal newsUpdate

Beweerde Laeveldse swendelaar in Mbombela in hegtenis geneem

Ná paroolvrylating en nuwe klagte is Daniël Maré by KMI Lughawe aangekeer.

Daniël Maré, die beweerde swendelaar wat gló derduisende rande by talle Laevelders gesteel het, is tans in Mbombela gearresteer.

Laevelder het verlede week berig hoe Maré Laeveldse inwoners oortuig het om hom vooruit te betaal vir goedere wat hy aan hulle gesmous het. In die meeste gevalle het hy dan met die geld verdwyn sonder om die items te lewer.

LEES OOK: Beweerde swendelaar van Marlothpark in die hof

Een van sy slagoffers, Saresa Myburgh van Marlothpark, het in Junie 2023 sowat R140 000 aan Maré oorbetaal om bouwerk aan hulle huis in dié vakansiedorp te doen.

Alle pogings van haar om die geld terug te kry was onsuksesvol.

“Hy het elke keer met leë beloftes vorendag gekom,” vertel sy. “Selfs nadat ons ʼn terugbetalingsooreenkoms aangegaan het, het hy dit verontagsaam.”

Myburgh het toe ʼn sosiale media-veldtog van stapel gestuur. Dit het wye reaksie van ander slagoffers ontlok. “Dit was soos ʼn blik wurms wat oopgemaak is!” het sy gesê.

Dit het toe ook aan die lig gekom dat hy tronkstraf uitgedien het nadat hy in Mei 2024 vir ʼn bedrogsaak in Brooklyn, Pretoria, tot drie jaar gevonnis is. Hy is egter na sewe maande, in November 2024, op parool vrygelaat.

“Hy was skaars uit die tronk toe hy weer met sy streke begin het,” sê Myburgh.

Intussen is ʼn kriminele klag teen hom in Lydenburg geopen.

Die afgelope maande het nie net die polisie na hom gesoek nie, maar ook korrektiewedienste omdat hy sy paroolvoorwaardes verbreek het.

Verlede week het Maré aan Laevelder gesê hy werk tans by ʼn gastehuis in die stad en sou ʼn onderhoud toestaan. Hy was egter ontwykend en wou nie sê waar hy wou ontmoet nie.

LEES OOK: Beweerde swendelaar stel haar kant van die saak

Sedert die berig verskyn het, het hy gesê hy was in Middelburg. Daar is toe vasgestel dat hy in werklikheid al sowat drie weke in Melkbosstrand naby Kaapstad was.

Hy het in daardie stadium glo by ʼn vrou gebly wat hy op TikTok ontmoet het. Die verhouding het blykbaar suur geword.

LEES OOK: Maré se swendelary laat talle Laevelders finansieel in die steek

Navrae wat aan dié vrou gestuur is, het onbeantwoord gebly. Sy het selfs vir hom ʼn vliegtuigkaartjie na Kruger Mpumalanga International Lughawe (KMI) gekoop.

Hy het vanoggend, 23 Desember, om 08:00 uit Kaapstad gevlieg. Met sy aankoms net ná 11:00 by KMI Lughawe, is hy deur lede van korrektiewedienste in hegtenis geneem.

“Ek weet ek gaan waarskynlik nooit my geld terugkry nie, maar net die wete dat hy gevang is, is bevredigend,” het Myburgh gesê. “Dit bring nou my jare lange eenmanstryd om hom agter tralies te kry tot ʼn einde.”

Maré is tans in aanhouding in Mbombela.

Volgens ʼn persoon wat nou betrokke was by die soektog na Maré (en nie bekend gemaak wil word nie), sal hy heel waarskynlik nou die res van sy vonnis van 29 maande agter tralies deurbring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button