Hard newsLocal newsUpdateSensitive Content

Jong pa sterf in gru-botsing op R40 naby Witrivier

’n Geliefde Witrivier-inwoner se lewe is 7 Januarie in gru-ongeluk op die R40 naby Msholozi kortgeknip.

Die slagoffer wat gisteraand, 7 Januarie, in ’n noodlottige motorongeluk op die R40 betrokke was, is as Buks Weltagen (30) geïdentifiseer. Sy skielike dood het skokgolwe deur die Laeveld gestuur.

Buks Weltagen. > Foto: Facebook

Weltagen, beter bekend as Buksie, was omstreeks 18:30 vanaf Witrivier na Mbombela onderweg toe sy voertuig teen dié van ‘n ander gebots het. Die voorval het duskant die Msholozi-kruising plaasgevind.

LEES OOK: Laeveld-legende, Wimpie Strydom, sterf

Luidens berigte is sy voertuig met impak teen ’n boom vasgeslinger, terwyl die ander motor, in ’n sloot beland het. Die insittendes, glo toeriste van Spanje, het geringe beserings opgedoen. Dewald Strydom, operasionele bestuurder en paramedikus van iSecure EMS wat op die toneel was, het gesê die botsing was uiters ernstig en dat Weltagen op die toneel aan sy beserings beswyk het.

Die wrak van Buks se voertuig. > Foto’s: Facebook & Verskaf/iSecure EMS
Die wrak van Buks se voertuig. > Foto: Verskaf/iSecure EMS

Die oorsaak van sy dood en presiese besonderhede rondom die ongeluk, is nog nie bekend nie.
Weltagen, ’n inwoner van Witrivier en oud-Robbie, word onthou as ’n passievolle en avontuurlustige mens wat gans te vroeg gesterf het. Die huldeblyke wat intussen op sosiale media instroom, wys hoe geliefd hy was en hoe groot die leemte wat hy agterlaat is.

“Dertig jaar was veels te min, maar geen oomblik was gemors nie. Jy het geleef soos min mense durf, voluit, sonder filters, sonder voorgee. Net deur jouself te wees, kon jy mense laat lag, lig bring waar dit donker was, en ’n spoor los wat nie uitgewis kan word nie.

“Alles wat jy gedoen het, het jy met jou hele wese gedoen. Dis altyd Buks of niks gewees, geen halfpad, geen twyfel. Jy was, is en sal altyd een van die Laeveld se rotse bly.

“Ons harte breek vir Ledéle Vorster en julle pragtige twee kinders. Hulle was jou wêreld, jou trots, jou alles,” het Gerhard Sinden geskryf.

Sy buurman, Bruce Macaulay, het vertel dat hy baie lief was vir sy kinders en familie. Hy het onlangs sy 30ste verjaardag gevier.

LEES OOK: Wimpie Strydom se vreugdevolle nalatenskap gevier

Hy was die eienaar van Inyati Fencing en het graag tyd saam met vriende en familie deurgebring. Hy laat sy verloofde, Ledéle Vorster, en hulle twee kinders, Bea en Buks jr., agter.

Buks Welthagen en sy verloofde, Ledéle Vorster.
Buks Weltagen en sy verloofde, Ledéle Vorster.

Die familie was teen publikasietyd nog nie in staat om kommentaar te lewer nie, en begrafnisreëlings is nog nie bekend gemaak nie.

’n Uitgebreide huldeblyk sal op ’n later stadium verskyn. Intussen word vriende en familie uitgenooi om hul boodskappe op Laevelder se Facebookblad te deel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button