Wimpie Strydom se vreugdevolle nalatenskap gevier
Huldeblyke het op sosiale media ingestroom na Laevelders van Wimpie Strydom se dood gelees het.
Wimpie Strydom (39), die pa van drie seuns, ‘n godvresende man en geliefde lid van die Laeveld, se lewe is Dinsdag, 25 November, saam met sy familie en vriende herdenk, nadat hy op 18 November by sy huis in Pretoria aan ‘n hartaanval dood is.
LEES OOK: Laeveld-legende, Wimpie Strydom, sterf
Die voormalige eienaar van Elmadré Slaghuis se gedenkdiens is by die 3CI-kerk in Pretoria gehou. Die gebou was kleurvol versier om sy vrolikheid en die helder lig wat hy altyd geskyn het, te eer.

“Die hoeveelheid mense wat vandag hier is, wys watse goeie invloed hy op mense gehad het,” het sy ma, Marianna Mulder, tydens haar huldeblyk gesê. Sy en haar man, Mias, was met vakansie in die Kaap toe hulle die slegte nuus ontvang het.
Strydom se skielike afsterwe het nie net die familie nie, maar ook die hele Laeveld-gemeenskap in rou gedompel. Huldeblyke het op sosiale media ingestroom nadat die familie sy dood aan Laevelder bevestig het.
LEES OOK: Familie onthou Mbombela se slaghuislegende, Rassie Strydom
Laevelders onthou hom en sy pa, Rassie, se vriendelike gesigte by die slaghuis en die heerlike biltong en verskeidenheid vleis wat hulle verkoop het. Tydens sy herdenkdiens het sy ma en broer, Ebert, vertel dat hy ‘n groot hart gehad het en dat hy hulle lewens nie onveranderd gelaat het nie.

“Ek is seker hy is besig om vir sy pa en Jesus in die hemel lekker te braai,” het Mulder laggend gesê.
“Jou geloof was standvastig en konstant, ongeag jou omstandighede – ‘n ware getuienis van wie jy was,” het Ebert afgesluit.
Sy ander broer, Danie, het ‘n lied gesing terwyl sy seun en Wimpie se twee seuns hom vashou. Hy het ook ‘n huldeblyk in die herdenkingsdiensboek gedeel:
“Ons het gebraai, ons het saam rugby gekyk, ons het gejag, ons het visgevang, ons het alles gedoen wat broers saam kan doen.”
Strydom was die middelkind van sy twee broers, Ebert en Danie. Hy het saam met sy pa in Elmadré Slaghuis gewerk voor sy pa se afsterwe op 25 Februarie 2023. Sy ma het vertel dat hy as kind vakansies gereeld saam met sy pa in die slaghuis gewerk het.

“My kind het swaar gekry ná sy pa se afsterwe en het op ‘n nuwe begin besluit nadat die slaghuis verkoop is,” het Mulder erken.
Strydom en sy gesin het einde Julie vanjaar na Pretoria verhuis. Hy en sy vrou, Lou-Ann, het saam sy nuwe sakeonderneming, Elmadré Catering & Events, gestig. Volgens sy ma was daar kort voor sy dood reeds planne om ‘n vleisfabriek te bou.
“Hy was veral lief om biltong te maak en het in die worsmaak vir die nismark gespesialiseer,” het sy vertel.
Die familie het ‘n BackaBuddy-veldtog begin om sy vrou te help om die besigheid op die been te bring. Die familie bedank die Laevelders wat ‘n bydrae wil maak en in die seer deel.

Strydom laat sy drie seuns, Altus (8), Luan (6) en Markus (4), sy vrou, sy ma en sy twee broers, agter.
Vir diegene wat ‘n bydrae wil maak, kan die veldtog hier besoek.
