Kersvader deel pakkies van sy bakkie in Witrivier
Kersvader en sy elfies het op Kersdag karwagte en petroljoggies met lekkernye verras.
Inwoners van Witrivier het op Kersdag vir Kersvader op ‘n ongewone manier gesien ry, op ‘n bakkie terwyl hy pakkies aan werkers uitgedeel het. Hy het spesiaal by petroljoggies en karwagte gekuier wat op die vakansiedag moes inklok vir werk en ‘n paar lekkernye aan hulle persent gegee.
LEES OOK: Jong pa sterf in gru-botsing op R40 naby Witrivier
Die tradisie is ses jaar terug deur Thinus Lourens en sy vrou, Susan begin. “My man het met die idee vorendag gekom en die res van ons het ingespring om te help en iets kleins vir die gemeenskap terug te gee,” het sy verduidelik.

LEES OOK: Care Buddies get festive with Lowveld seniors
Thinus trek elke jaar sy rooipak aan, sit op sy stoel bo-op die bakkie en ry saam met sy elfies deur die dorp se strate om ‘n verskil te maak. Hulle gesin het ook vanjaar ‘n draai by die Millennium Home of Hope gemaak om 20 gehekelde komberse en teddiebere, wat hulle self gemaak het, af te lewer.
“Hierdie jaar het ons kleinkinders ons ook vergesel en dit geniet om vir mense Geseënde Kersfees te skree,” het Susan laggend vertel.
Dié jaarlikse tradisie sit vele glimlagte op mense se gesigte en, terwyl baie gesinne aansit om tafel vir ‘n heerlike ete, word werkers op dié dag vir hulle harde werk beloon.
