Op my Eish! deelnemer hoop om ‘n wendrie in voormalige speler se hart te druk
'n Entrepreneur van Mbombela het vir 'n realiteitreeks op kykNET ingeskryf .
Bejanke Nel (32), ‘n entrepreneur van die stad, staan saam met 15 ander dames gereed om vanjaar se Op my Eish! deelnemer, Ruan Smith (35), se hart te probeer verower.
Dié voormalige rugbyspeler is opsoek na sy lewensmaat, en die realiteitsreeks se vierde seisoen beloof om opwindende aktiwiteite en uitdagings te bied wat Smith op sy tone gaan hou.
LEES OOK: Badplaas boer vind nuwe liefde ná Boer Soek ‘n Vrou
Smith is deel van ‘n tweeling en woon in Alberton waar hy, saam met sy broer, hulle rugbykliniek bedryf. Hy was voorheen getroud en is ‘n pa van twee kinders.

Nel, ‘n Laevelder en enkelma van twee, glo in tweede kanse veral wanneer dit by die liefde kom. “As mens nie ‘n kans vat nie, sal mens nooit weet nie.”Sy beskryf haarself as ‘n oop en opregte mens wat waarde heg aan eerlikheid, groei en betekenisvolle verhoudings.
“Ek geniet dit om nuwe ervarings aan te pak en myself beter te leer ken, vernaamlik in uitdagende of onbekende situasies.”
Sy sê verder dat dit Ruan se opregtheid en selfvertroue is wat haar tot hom aangetrek het. “Kyk, sy boude en bene is ook nou maar iets om na te kyk,” het sy laggend erken.
LEES OOK: Mbombela boer waag ‘n kans op liefde in nuwe reeks
Sy hou van rugby en skree graag vir die Blou Bulle. Net soos in dié spel kan daar konflik met ander spelers wees, maar sy het gedeel dat sy nie die ander deelnemers as ‘n bedreiging sien nie.

“Ek dink as Ruan my kies is daar baie goed wat eers in plek sal moet val voor ek sal trek. Maar as dit die Here se wil is, dan sal ek bereid wees om dit te doen.”
Nel het gesê dat kykers kan uitsien na ‘n reeks vol romanse, persoonlike groei, onverwagse oomblikke en egte emosies.
“Dit gaan nie net oor liefde nie, maar ook oor selfontdekking, kwesbaarheid en die keuses wat mense maak,” het sy afgesluit.
Laevelders kan haar reis na liefde vanaf 15 Januarie, elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET volg.
