Local news

Mbombela boer waag ‘n kans op liefde in nuwe reeks

Jacques Jacobs het al voorheen toneel gespeel voor die kameras.

Boer soek ‘n vrou is terug met sy 18de seisoen om boere in die land na hulle lewensmaats te help soek. In die jongste episode is 10 nuwe boere bekend gestel en Jacques Jacobs, het met Laevelder oor sy nuwe reis gesels.
Jacobs (32) is ‘n macadamiaboer en glad nie skaam voor ‘n kamera nie.

LEES OOK: Laeveld-boere moer en koer op die kassie

Hy het as akteur in twee kortfilms, Die bustrip en Dit is my dag, vandag, verskyn en voel gemaklik om op stel te wees. Hy het ook al saam met bekende akteurs soos Izak Davel en Viljé Maritz gewerk.

Sy liefde vir toneelspel kom van sy hoërskooljare af. Hy het sy bynaam, ‘Poena’, van ‘n komiese karakter gekry wat hy tydens sy groentjiekonsert vertolk het en wat deur die fliek, Poena is koning, geïnspireer is.

“Meeste mense in die dorp ken my as Poena en noem my na al die jare nog so,” het hy laggend vertel.

Hy is ‘n oud-Nellie en was ook ‘n leerling by Laerskool Laeveld.

LEES OOK: Badplaas boer vind nuwe liefde ná Boer Soek ‘n Vrou

Hy beskryf homself as ‘n saggeaardige mens wat ‘n groot liefde vir die natuur en buitelewe het. “Ek is ‘n jack of all trades, en geniet dit om myself met verskillende dinge besig te hou,” het Jacobs gesê. Hy praat ook van sy boer- en familieplaas wat hy as sy werks- en sy ontspanningsplek onderskei.

“Die boerplaas is waar ek werk en die familieplaas is waar ek graag groepe op staproetes en soms ook wildjag neem,” het Jacobs vertel.

Sy familieplaas is 20 km buite die dorp naby Croc Mountain Conservancy. Hy is die jongste van sy broer en suster en bring graag sy tyd oor naweke saam met sy familie deur.

LEES OOK: Watervalrivier-boere gemaan om waaksaam te wees ná plaasaanval

Hy het vir die program ingeskryf omdat hy sy grense wil verskuif. “Ek is op soek na my maatjie en is gatvol om alleen te wees,” het hy erken. Hy glo ‘n meisie wat haarself in sy teenwoordigheid kan wees en die beste in hom kan uitbring, sal by hom pas.

“Ek is nie bang vir ‘n bietjie drama nie, en sien uit daarna om hierdie liefdesoektog aan te pak,” het Jacobs gesê.

Die nuwe program word volgende jaar in Augustus op kykNET, kanaal 144, uitgesaai. Al die vroue wat Jacobs beter wil leer ken, kan hul inskrywings voor middernag, 4 Desember, instuur deur kykNET se webtuiste te besoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button