Op my Eish! deelnemer kry ‘sleutel’ na Ruan se hart
Smith het na die blitsafspraak met Nel 'n sleutel aan haar oorhandig wat vir haar 'n belangrike deur kan oopmaak.
Die eerste episode van die realiteitsreeks Op my Eish! het verlede Donderdag, 15 Januarie, op kykNET afgeskop. Plaaslike entrepreneur Bejanke Nel het deurgedring na die volgende rondte en is een stap nader om die ‘mooiste man in Alberton sedert 2012’, soos Ruan Smith speels na homself verwys, se hart te wen.
LEES OOK: Op my Eish! deelnemer hoop om ‘n wendrie in voormalige speler se hart te druk
Smith is deel van ‘n tweeling en ‘n voormalige rugbyspeler wat vir die Brumbies, Leeus en oorsese spanne in Australië en Japan gespeel het. Hy was voorheen getroud en is die pa van twee dogters.
Tydens Nel en Smith se blitsafspraak het hy opgemerk dat Nel ‘n rustigheid aan haar het wat by hom aanklank vind. Aan die ander kant, kon Nel nie anders as om eers sy breë skouers en bors op te merk nie en het laggend gesê dat hy ‘n régte man is. Sy het vertel dat sy ‘n enkelma van ‘n dogter (9) en ‘n seun (6) is, en erken dat sy ‘n skaam, stil en rustige mens is.
LEES OOK: Laeveld-boere moer en koer op die kassie
Smith het ná die afspraak gesê dat hy kan sien dat Nel ‘n opregte en sagte mens is en vir haar ‘n goue sleutel gegee wat haar outomaties na die volgende rondte laat deurgaan.
Nel het opgewonde die sleutel aanvaar en sien uit om Smith beter te leer ken. Laevelders kan haar reis na liefde elke Donderdag om 20:00 op kykNET volg.
