Local news

Terugblik: Oud burgemeester kyk terug ná 14 jaar se diens

Jacques Labuschagne was die eerste en enigste verkose burgemeester buite die ANC.

Jacques Labuschagne (83), voormalige burgemeester, het die dorp van sy vroeë dae, toe dit nog ‘in die knoppe’ was, tot ’n volwaardige hoofstad sien groei.

LEES OOK: Pieter Smit groet ná 42 jaar in die polisiediens

“Alles is net genade,” het hy aan Laevelder vertel terwyl hy terugkyk op 14 jaar se diens aan die stadsraad.

Gevestig as leier

Labuschagne is in 1942 in Amersfoort gebore en het later na Maraisburg in Roodepoort verhuis, waar hy hom vroeg as ’n leier gevestig het.

In gr. 11 aan Hoërskool Roodepoort is hy as mededirigent vir die junior stadsraad verkies.

“Dit was my eerste blootstelling aan die stadsraad, en dit was ook die grootste stadsrade in daardie tyd,” voeg hy by.

As junior stadsraadlid moes hy leer oor plaaslike regering en die gemeenskap bemagtig deur fondsinsamelingsprojekte en uitreikprogramme.

Na skool het hy ’n graad in opvoedkunde aan die destydse Universiteit van Potchefstroom verwerf en later ’n meesters- en doktorsgraad aan UNISA voltooi.

Daarna het hy en sy vrou na Ermelo verhuis toe hy ’n Afrikaanse vakpos aanvaar het.

Laaste stadsraad van die ou bedeling in 1994.
Laaste stadsraad van die ou bedeling in 1994.

Op 29-jarige ouderdom is hy tot onderburgemeester van dié dorp verkies.

Dinge lyk anders

Kort daarna is hy deur die onderwysdepartement bevorder na ’n pos as skoolsielkundige in Mbombela.

“In 1973 het dinge baie anders in Nelspruit gelyk,” erken Labuschagne.

“Mense het nie heinings om hul erwe gehad nie en dit was ’n baie veilige dorp. Die dorp het ook die goedkoopste watervoorsiening gehad.”

As skoolsielkundige het hy skole ondersteun met voorligtingsprogramme en leerders met gepaste sielkundigetoetse gehelp.

In die 1980’s is hy tot raadslid verkies en twee jaar later tot onderburgemeester bevorder.

“Ek het steeds my werk as skoolsielkundige voltyds gedoen terwyl ek op die raad gedien het,” sê hy. In 1984 is hy uiteindelik tot burgemeester verkies.

“Dit was ’n eer en net die Here se genade wat my tot daardie posisie gelei het,” sê hy emosioneel.

Hy het vyf termyne as burgemeester gedien en laggend vertel dat sy toelae sowat R3 000 per maand was.

“Ons het nie luukse motors en bestuurders gehad wat ons rondgery het soos vandag nie.”

Sy hoogtepunte

Gedurende sy ampstermyne moes hy meer as 300 funksies per jaar bywoon.

“Ek het baie tyd weg van my vrou en vier kinders deurgebring weens my veeleisende verpligtinge.”

Sy hoogtepunte as burgemeester sluit in die bevordering van Nelspruit tot hoofstadstatus, met die hulp van raadslid Charles Venter en stadsklerk Dirk van Rooyen.

Hierdie hoogtepunt het uiteindelik gelei tot ontwikkelings soos die KMI-lughawe, die Mbombela Stadion en ’n nuwe burgersentrum.

Jacques Labuschagne en Mathews Phosa klink 'n glasie op nuwe hoofstad status van Mpumalanga in 1994. > Foto's: Verskaf/Jacques Labuschagne
Jacques Labuschagne en Mathews Phosa klink ‘n glasie op nuwe hoofstad status van Mpumalanga in 1994. > Foto’s: Verskaf/Jacques Labuschagne.

Die eerste en enigste verkose

“Ons het in daardie jare ook ’n Leeufees gehad, wat baie soos die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees was,” vertel hy.

Hy sê hulle het nooit oor hul begroting bestee nie en het altyd bevoegde tenderaars aangestel.

Saam met hom het vele bekende Laevelders gewerk, insluitend Nick van Zyl, Chris Delport, Arnold le Roux, Freddy Joseph, Brian Shrosbee, Frans Coetzer en Carel Kruger.

LEES OOK: Mbombela Biblioteek ’n ‘stiefkind’ vol historiese juwele

In 1992 het die raad begin onderhandel met die ANC oor die oorgangsregering met die oog op ’n nuwe bedeling.

Labuschagne het saam met Mathews Phosa gewerk en is daarna weer in 1994 as burgemeester verkies.

Hy was die eerste en enigste verkose burgemeester buite die ANC.

“Ons het goed saamgewerk en in daardie jaar het Mbombela hoofstadstatus gekry. Die dorp is ook talle kere aangewys as die vinnigste groeiende plattelandse dorp.”

Na 1995 het hy besluit om uit die politiek te tree en het as finansiële adviseur by Absa Group gewerk tot en met sy aftrede.

Deesdae hou Labuschagne hom besig met eiendomme wat hy verhuur en speel hy een keer per week gholf saam met vriende.

Hy bedank steeds die Here vir sy genade, asook sy vrou vir haar volgehoue ondersteuning deur sy politieke loopbaan.

Sertifikaat van sy aanstelling as burgemeester in die nuwe bedeling.
Sertifikaat van sy aanstelling as burgemeester in die nuwe bedeling.

Sy raad aan nuwe stadsraadlede is om die gemeenskap meer betrokke te kry en meer take binne die raad te privatiseer.

Sy nalatenskap het Mbombela onherroeplik verander.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button