Innibos gaan lekker VIBE met meestersklasse vir nuwe sterre
Die eiesoortige jeuginisiatief is daarop gemik om jong kunstenaars te bemagtig.
Daar was Woensdagaand, 29 April, beslis ‘n ‘vibe’ by die bekendstelling van die VIBE Innibos-program.
Die Meestersklas-programbekendstelling het by die Stadio-kantore in Crossing Nelspruit plaasgevind.
Hierdie driedaagse intensiewe jeugkunstesimposium en -ekspo, aangebied in samewerking met die Toyota Innibos Nasionale Kunstefees, bring jong kreatiewe geeste en gevestigde kenners saam op ‘n unieke platform.
VIBE Innibos vind vanjaar vir die eerste keer plaas en word van 29 Junie tot 1 Julie by Nelspruit Primary School aangebied.

Die program is ‘n eiesoortige jeuginisiatief wat daarop gemik is om jongmense in die kunste te bemagtig en die volgende generasie kunstenaars te ontwikkel.
LEES OOK: Innibos versterk jeugontwikkeling met VIBE-kunsprogram
Hier kry deelnemers die geleentheid om by die bestes in die bedryf te leer, word hulle blootgestel aan teaterproduksies en optredes, en kry hulle selfs leiding oor moontlike toelating tot tersiêre instellings.
Met 28 verskillende aanbieders wat hul kennis en passie in teater, dans, kuns en musiek deel, bied VIBE Innibos ‘n besonderse geleentheid vir jong talent.
Die Lowveld Development Orchestra en Dante Nortjé het ook deelgeneem en is tydens die IFCarts-kompetisie in Cannes, Frankryk, as Beste Junior Akteur aangewys.

Inskrywings kan gedoen word by Steven Schamrel, projekkoördineerder van VIBE Innibos, by 071 418 4049.
Elke kaartjie sluit ook toegang tot die Innibos-feesterrein in.
LEES OOK: VIDEO | ’n Sirkus soos geen ander – Sirkus L’amour tref Innibos
Ouers met kinders wat in die uitvoerende of visuele kunste uitblink en meer oor die program wil weet, kan ook per e-pos navraag doen by info@vibefees.co.za.
Is jy IN?
Besoek www.innibos.co.za

