Nellie bult spiere as “Hercules” in Pretoriase teater
Rossouw van Wyk se vertolking van "Hercules" het lof van teaterresensente ontvang.
Rossouw van Wyk, ’n graad 11-leerling van Hoërskool Nelspruit, het die afgelope maand sy skooluniform vir “Hercules” se uitrusting verruil. Hy vertolk tans dié rol in die Oakfield Youth Theatre se musiekblyspel by die Atterburyteater in Pretoria.

Hy het aanvanklik vir die rol van die skurk, “Hades”, ‘n oudisie gedoen, maar het die rolverdelingsregisseurs anders oortuig.
LEES OOK: NHS leerder verteenwoordig SA in België
“Ek het oorspronklik gehoop om net deel van die ensemble te wees, maar was heeltemal verras toe ek teruggeroep word vir die hoofrol,” vertel Rossouw.
Hy repeteer sedert Januarie saam met sy medeakteurs en moes elke Saterdag aan repetisies in Pretoria wy. Tussendeur sy hokkiewedstryde en skoolwerk moes hy sy woorde, danse en liedjies oefen.
“Dit was uitdagend om alles te balanseer, maar die ondersteuning van my ouers en skool het dit alles die moeite werd gemaak,” sê hy.
Sy rol as “Hercules”
Net soos “Hercules” se soeke na identiteit en aanvaarding, sê Rossouw dat hy maklik met die karakter kon vereenselwig. “Die samelewing kyk soms anders na jong seuns wat by die kunste betrokke is. Mense oordeel ons, en daarom kon ek met “Hercules” identifiseer omdat hy ook sy plek in die wêreld probeer vind.”

Rossouw steur hom egter nie aan mense se opmerkings nie en moedig jong akteurs aan om hul drome te volg.
“Wees net wie jy is en doen wat jou gelukkig maak,” sê hy.
Die produksie het reeds verskeie positiewe resensies ontvang van resensente soos TheSomethingGuy en BroadwayWorld. Hulle prys Rossouw se geloofwaardige toneelspel en emosionele vertolking.
LEES OOK: IN FOTO’S: Innibos 2026 se syfers wys fees se enorme impak
“Dit is ’n groot voorreg om saam met kundiges soos Cameron en Tarryn Botha te werk, wat jare se ervaring in die bedryf het. Hulle het my gehelp om my verhoogoptrede te verbeter en my nuwe vaardighede geleer,” sê Rossouw dankbaar.

Hy erken ook dat dinge nie altyd volgens plan verloop tydens ’n vertoning nie. Hy onthou een toneel waar sy springtou aan sy kostuum vasgehaak het.
“Dit was nogal snaaks, maar jy leer vinnig om op jou voete te dink en te improviseer,” sê hy.
“Hecules” die musiekblyspel
Die produksie is reeds sedert 9 Julie op die planke en die laaste vertoning is Sondag, 19 Julie. “Ek moedig enigiemand aan om die produksie te kom kyk. Al is dit ’n jeugproduksie, is dit baie professioneel en vermaaklik.”
LEES OOK: Frank klim in 15 karakters se koppe tydens Reünie
Rossouw voeg by dat die sangers lewendig op die verhoog sing, wat die produksie nog meer eg maak. Hy het ook opgewonde vertel dat ’n groep Nellie-leerlinge en ouers per bus na Pretoria gaan reis om sy tweede laaste vertoning te sien.
Hy droom om nog eendag op Broadway op te tree en beplan om naskool by die Luitingh Alexander Musical Theatre Academy in Kaapstad musiekteater te studeer.