Local news

Skildery van geliefde troeteldier bring vertroosting vir Mbombela-gesin

Oud-Springbok Danie Rossouw se vrou is onverwags met 'n spesiale geskenk verras wat 'n aandenking is van haar troeteldier wat doodgery is.

Meer as ‘n maand nadat oud-Springbok Danie Rossouw se vrou, Marilise, haar geliefde Engelse bulhond verloor het toe sy doodgery is, het ‘n onverwagse geskenk haar tydens haar rouproses ‘n bietjie vertroosting gebring.

LEES OOK: Mbombela-padvark ry hond voor jong kinders dood

Jó-Annette Browning (26), ‘n inwoner van Barberton, het Marilise met ‘n skildery van Mathilda verras. “Ek het besluit om die skildery te maak omdat ek gedink het dit sal ‘n spesiale aandenking vir Mathilda se familie wees en vertroosting bring wanneer hulle elke dag daarna kyk,” sê sy.

Die skildery, wat 50 x 50 cm groot is, is met akrielverf geskilder.

Marilise Rossouw in haar noppies oor haar nuwe skildery.

“Ek het snot en trane gehuil toe ek die skildery ontvang. Dit is so spesiaal,” erken Marilise. Sy het aanvanklik aangebied om vir die skildery te betaal, maar Browning het daarop aangedring dat dit ‘n geskenk is. “Ek is so verstom dat die gemeenskap so na my uitreik. Tydens my rouproses het ek besef dat daar wel nog goeie mense daarbuite is,” sê sy.

Marilise beplan om die skildery in haar studeerkamer, naby haar lessenaar, op te hang. Die skildery het haar só beïndruk dat sy Browning gevra het om ook ‘n tweede een te maak. Dié keer wil sy graag ‘n afbeelding hê van die tatoeëermerk van Mathilda se pootafdruk, met haar naam daarby.

LEES OOK: Soektog na BMW X3 wat hond doodry duur voort in Mbombela

Browning is ‘n plaaslike kunstenaar wat reeds twee uitstallings gehou het. Sy verkoop ook gereeld haar kunswerke by markte in Barberton. Mathilda se storie het haar diep geraak omdat sy vyf jaar gelede self twee honde verloor het nadat hulle deur ‘n swartmamba gepik is.

Die skildery van Mathilda.

“Ons het ons twee Jack Russells op dieselfde dag verloor, toevallig op stemdag. Ons kon niks daaromtrent doen nie, omdat dit ‘n openbare vakansiedag was en ons nie ‘n veearts beskikbaar gehad het nie. Ons moes dus toekyk hoe die honde hul laaste asem uitblaas. Hulle was familielede, net soos Mathilda,” verduidelik sy.

Mathilda is op 4 Oktober voor die Rossouw-gesin se huis deur ‘n silwer BMW X3 doodgery terwyl Marilise saam met haar kinders en honde in hul doodloopstraat gespeel het. Volgens beeldmateriaal wat aan Laevelder verskaf is, het die voertuig teen ‘n hoë spoed in die straat afgery en etlike minute stilgestaan voordat dit weer weggetrek en oor Mathilda gery het.

Marilise Rossouw en Jó-Annette Browning.

Volgens Juandré Rautenbach, direkteur van Divergent Ops, het hulle nog geen leidrade van die publiek ontvang nie en probeer hulle steeds om die voertuig op te spoor.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button