Boer Arno vra Komati-onderwyser om te trou
Rosanne Lötter en Arno van Heerden het hul verhouding met ’n romantiese bosveldverlowing gevier en sien uit na hul toekoms saam.
Rosanne Lötter (26), ‘n onderwyser van Komatipoort, en Arno van Heerden (29), ‘n kwaliteit- en produksiebestuurder in die bosboubedryf in Tzaneen, het tydens die 18de seisoen van die bekende kykNET-reeks, Boer Soek ‘n Vrou, mekaar en die kykers se harte gesteel.
Tydens die reeks se reünie-episode wat op 22 Oktober uitgesaai is, het talle deelnemers vermoed dat die paartjie die eerste sal wees wat verloof raak. Hulle was toe nie verkeerd nie en Van Heerden het op 7 November die groot vraag gevra.
Die paartjie het die naweek na die Monte Christo Wedding Venue gaan kyk omdat hulle klaar geweet het dat hulle wil trou. Daar was reeds ‘n troue aan die Saterdag en hulle wou ‘n idee kry van hoe die groot dag sou lyk.
Van Heerden het gevra of hulle na die woudarea kon gaan kyk waar die mense gaan trou.

“Hier het ek eers bietjie agterdogtig geraak, maar toe vra die organiseerder hoe laat neem sy die bruid af en toe dink ek, oukei, nee, ons gaan net na die woud kyk,” sê Lötter.
Tot haar verbasing was daar ‘n piekniek uitgepak, kompleet met eetgoed, vonkelwyn en blomme.
“Ek het dadelik emosioneel geraak, want toe weet ek die oomblik is hier. Arno het die mooiste woorde gesê en my gevra om met hom te trou en ek het die jawoord gegee,” sê sy.
Volgens Lötter het baie van hul naastes vooraf geweet dat hy haar gaan vra omdat hulle gesien het dat hulle ‘n sterk verhouding het en dat die Here hul fondasie is.
Na die afloop van die verlowing het Van Heerden vir Lötter ‘n brief gelees en afgesluit met: “Hierdie is nou ons storie en ek sien uit daarna om elke volgende hoofstuk saam met jou te ontdek.”
Die paartjie is ongelooflik opgewonde vir die pad wat voorlê en kan nie wag om te sien wat die toekoms inhou nie.